McCarthyrust Foto Pieter Kotze
‘n Reënbui sak by McCarthyrust in die Kalahari uit. FOTO: Facebook / Pieter Kotze

Gure weer en moontlike sneeu voorspel vir Kaap-provinsies


Baie koue, nat en winderige toestande word van Woensdag 16 September tot Vrydag 18 September oor die suidelike deel van die Namakwa-distrik in die Noord-Kaap, sowel as die Kaapse Wynlande, Sentraal-Karoo en Klein-Karoo in die Wes-Kaap voorspel. Ligte sneeuneerslae kan moontlik in die hoogliggende dele van dié distrikte voorkom.

Dié weersomstandighede word voorspel weens ‘n volgende kouefront wat die suidwestelike kusgebied van die land nader.

Die reënvoorspelling vir Woensdag 16 September.
Die reënvoorspelling vir Woensdag 16 September. GRAFIKA: Vox Weather

Intussen is swaar reën en hael vandag (Dinsdag) in dele van Queensburgh in Durban, KwaZulu-Natal, aangemeld. Volgens inwoners het die weer baie vinnig na erge onweer verander. Veiligheidsinstellings raai inwoners van die gebied aan om onnodige reise uit te stel, of reis te beperk totdat die padtoestande verbeter het. Reisigers tussen Stanger/KwaDukuza, Durban en Ballito word aangeraai om uiters versigtig te bestuur en voorsiening vir ekstra reistyd te maak.

Geen nuus oor uiterse ontwrigting weens gure weerstoestande wat vir Maandag in groot dele van die Noord-Kaap voorspel is, is ontvang nie.

Maskamberg by Van Rhynsdorp in die Noord-Kaap
Maskamberg vandeesweek by Van Rhynsdorp in die Noord-Kaap. FOTO: Facebook / Laurika Steenkamp

Weens dié geel vlak 4-weerwaarskuwing wat vir veral op Namakwa-distrik gemik was, het die Noord-Kaapse departement van onderwys Sondag in ‘n verklaring aangekondig dat die skole in die spesifieke distrik vir Maandag gesluit sal wees. Dié besluit is geneem weens die moontlikheid dat swaar reënval tot vloede en die ontoeganklikheid van sommige paaie kan lei.

Die Noord-Kaapse departement van paaie en openbare werke dui op ‘n Facebook-plasing aan dat uitdagende toestande op die volgende paaie aangemeld is:

  • Klipwerf tot Driekuil: Twee laagwaterbrûe is oorstroom.
  • Calvinia tot Middelpos: ‘n Deel van die pad is nat en glad.
  • Calvinia tot Clanwilliam tussen die R27 en Botterkloof: Die hele padgedeelte is glad.
Reën het Maandag in Upington neergesak. FOTO: Videoskermgreep
Reën het Maandag in Upington neergesak. FOTO: Videoskermgreep

Goeie reënval is wel plek-plek in die Noord-Kaap en Wes-Kaap aangemeld, terwyl enkele millimeters in die meer noordelike dele van die land aangeteken is. Vir die 24 uur tot 08:00 Dinsdag 15 September is die volgende reënvalsyfers onder meer aangemeld:

  • Upington Middelpos 29mm
  • Williston 32mm
  • Tussen Boetsap en Reivilo 17mm
  • Kathu 21mm
  • Koffiefontein 14mm
  • Hopetown 40mm
  • Victoria-Wes 10mm – 30mm
  • Kamiesberg 46mm
  • Plaas buite Pofadder 50mm
  • Glenwood, George 10mm
  • Franschhoek-dorp 12mm
  • Oudtshoorn Wesbank 4mm
  • Kleinbosch 2,8mm
  • Wellington 13,5mm
  • Tulbagh 2,5mm
  • Paarl Sentraal 11,5mm
  • Paarl, Groenvlei 8mm
  • Banhoek, Stellenbosch 20mm
  • Knysna 18mm

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article