PAARL – ‘n Gesinsman en senior figuur by die gemeenskapsradiostasie KC 107.7, gebaseer in die Paarl, is in die kollig nadat ‘n saak van beweerde crimen injuria en seksuele teistering by die Paarl-polisiekantoor aanhangig gemaak is.
Sers. Wesley Twigg, woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie het bevestig dat die crimen injuria saak steeds ondersoek word en dat niemand nog in hegtenis geneem is nie.
Paarl Post verneem immers dat ‘n saak van seksuele teistering ook gemaak is, maar Twigg kon dit nie bevestig nie.
Die aantygings behels glo dat ‘n bestuurslid verbonde aan die radiostasie na bewering ‘n medewerker seksueel aangerand het. Spesifieke besonderhede van die voorval is nie bekend gemaak nie.
KC 107.7 het intussen in ‘n verklaring gesê ‘n interne proses rakende ‘n “teisteringklag” is reeds afgehandel.
Volgens die uitsaaier is ‘n amptelike ondersoek en ‘n tugverhoor teen die bestuurslid afgehandel, met ‘n onafhanklike voorsitter wat bevindings gemaak het oor die meriete van die saak en gepaste tugstappe.
Die raad van die stasie het dié aanbevelings volledig aanvaar, insluitend maatreëls om die organisasie se kultuur te versterk.
“Ons wil onomwonde verklaar dat die uitsaaier geen vorm van onprofessionele gedrag duld nie, of dit nou raadslede, werknemers of vrywilligers betrek,” lui die verklaring.
KC 107.7 het beklemtoon dat die proses in ooreenstemming met arbeidswetgewing en beginsels van billikheid hanteer is, en dat die saak met sensitiwiteit en vertroulikheid benader is om die regte van alle partye te beskerm.
“ ’n Onafhanklike voorsitter, aangestel om objektiwiteit en integriteit te verseker, het be- vindings gemaak rakende beide die meriete van die saak en die toepaslike sanksie. Die raad van KC 107.7 het hierdie bevindings noukeurig oorweeg en besluit om die onafhanklike voorsitter se aanbevelings ten volle te aanvaar. Dit sluit beide die opgelegde sanksie en die breër aanbevelings in wat daarop gemik is om die organisatoriese kultuur te versterk.”
Die verklaring brei nie uit oor watter “sanksie” op besluit is nie.
As deel van verdere stappe sal die stasie ‘n omvattende bewusmakingsessie aanbied wat fokus op respekvolle werkplekgedrag en die voorkoming van teistering, insluitend seksuele teistering.
Die inisiatief sal met die ondersteuning van die departement van arbeid plaasvind.
KC 107.7 sê hy bly verbind tot die handhawing van hoë standaarde van bestuur, aanspreeklikheid en etiese optrede. Die polisie-ondersoek duur voort.
Paarl Post het uitgereik na die vermeende slagoffer, wie gesê het dat sy nog nie reg is om met die media te praat nie.





