Marthinus Gouws (65), ‘n selfverklaarde ‘pastoor’ van die Paarl, het vandag (29 Junie) in die Wellington-landdroshof verskyn op ‘n aanklag wat verband hou met die beweerde onregmatige bekendmaking van die identiteit van ‘n klaer in ‘n strafsaak.
Hy is op borgtog van R500 vrygelaat nadat die saak tot 10 Julie uitgestel is.
Hy is op 25 Junie in hegtenis geneem nadat die familie van die 21-jarige student wat twee Paarlse klubrugbyspelers van verkragting beskuldig, ‘n klag van intimidasie teen hom aanhangig gemaak het.
Die jongste saak is op 24 Junie by die Wellington-polisie geopen.
Dit volg op ‘n soortgelyke intimidasiesaak wat reeds op 8 Mei teen Gouws geregistreer is, het Paarl Post verlede week berig.
Volgens betroubare inligting hou albei sake verband met plasings op sosiale media waarin Gouws sy steun vir die twee beskuldigdes uitgespreek het.
Daar word verder beweer dat die plasings die identiteit en woonadres van die klaer openbaar gemaak het.
Volgens inligting voer die klaer aan dat slagoffers van seksuele misdrywe beskerming behoort te geniet en dat Gouws se beweerde optrede daarop gemik was om die klaer in die verkragtingsaak verder te viktimiseer.

LEES OOK: Man in hegtenis oor beweerde intimidasie van klaer in verkragtingsaak
In ‘n onlangse Facebook-plasing het Gouws ‘n foto van homself voor die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (KSUT)-student se studentehuis gedeel en mense aangemoedig om nie die woning te ondersteun nie en daarvan “weg te bly”.
In ‘n afsonderlike plasing het hy ook persoonlike besonderhede van die student en haar familie in die kommentaarafdeling van sy plasing bekend gemaak.
Gouws se borgvoorwaardes sluit in om nie sosiale media plasings of kommentare oor die klaer te maak nie, asook om nie die klaer op enige manier te kontak nie.
Die huidige aanklag is nie die eerste keer dat Gouws met die regstelsel bots nie. Oor meer as twee dekades is hy met verskeie aanklagte verbind, waaronder seksuele misdrywe en bedrog.
Verkragtingsake
Volgens vorige berigte deur Paarl Post het Gouws se eerste botsing met die gereg ontstaan ná ‘n beweerde voorval by die welsynskantore in die Paarl waarna hy en ‘n vriend van hom in 2005 aangekla is van die verkragting van ‘n tienermeisie.
Albei mans is destyds in hegtenis geneem en het sowat drie maande in aanhouding deurgebring voordat die saak teruggetrek is.
Die staat het destyds aangedui dat die saak weer op die hofrol geplaas kon word indien verdere getuienis na vore sou kom.
Ná die terugtrek van dié saak het Gouws weer in 2005 voor die hof verskyn, dié keer op afsonderlike aanklagte van poging tot verkragting en onsedelike aanranding van ‘n werknemer van sy skoonmaakdiens, luidens vorige berigte.
Die saak is later ook teruggetrek weens onvoldoende getuienis.
Bedrogsaak
Gouws het weer in 2007 in die kollig beland toe ‘n regter tydens ‘n moordverhoor in die rondgaande hof in Vredendal beveel het dat ‘n bedrogsaak teen hom ondersoek word.
Hy is daarvan beskuldig dat hy hom as regsadviseur voorgedoen en R11 050 van die ma van ‘n moordbeskuldigde ontvang het om glo ‘n regspan saam te stel.
Die regspan het egter nooit opgedaag nie, waarna die regter beveel het dat die geld terugbetaal moet word en die polisie opdrag gegee het om ‘n ondersoek te begin.
Die bedrogsaak het uiteindelik in 2009 in die Paarl-streekhof gedien.
Volgens die staat het Gouws valslik voorgegee dat hy ‘n ooreenkoms met ‘n advokaat genaamd Deon van Rooyen gehad het om as sy agent op te tree.
Die saak het in 2011 tot ‘n einde gekom toe die landdros hom skuldig bevind het aan bedrog.
Die hof het bevind dat daar geen ooreenkoms tussen Gouws en Van Rooyen bestaan het nie, ondanks sy bewerings.
Tjekbedrog
In 2010 is Gouws ook met beweerde bedrog verbind nadat hy drank vir sy kerk, Africa Evangelistic Foundation Ministries, met ‘n ongeldige tjek gekoop het.
Hy was ’n stigterslid van die kerk.
Die drank is aangekoop by ’n drankwinkel in Jan van Riebeeckrylaan vir ’n biertuin wat die kerk aangebied het.
‘n Afsonderlike ondersoek is terselfdertyd ingestel nadat hy glo ook ‘n aantal hoenders met ‘n ongeldige tjek aangekoop het.




