Chevaan Abrahams
Chevaan Abrahams het verlede week die kans gekry om saam met Netcare se paramedici in die ambulans uit te gaan.

Petroljoggie Chevaan se paramedikus-droom word tasbaar

Chevaan Abrahams
Chevaan Abrahams het verlede week die kans gekry om saam met Netcare se paramedici in die ambulans uit te gaan.

Die droom van ‘n petroljoggie wat graag ‘n paramedikus wil wees het verlede week ‘n bietjie meer tasbaar geword.

Toe Chevaan Abrahams die geleentheid gebied is om saam met Netcare se paramedici en ambulans uit te gaan, het hy dit met albei hande aangegryp.

“Dit was ongelooflik,” sê die 21-jarige van Bluedowns wat by die Shell Zevenwacht-vulstasie werk. “Meeste mense glo nie dat drome waar kan word nie, maar ek het (Woensdag) gesien waartoe ek in staat is en wat ek regtig wil hê.

Chevaan Abrahams by die ambulans van Netcare..
Nadat Chevaan Abrahams kans gekry het om saam met Netcare se paramedici en ambulans te ry, is hy steeds oortuig dat hy ‘n paramedikus wil word.

“Ek het Netcare uit die diepte van my hart bedank vir hierdie geleentheid.”

TygerBurger het vroeër berig oor Abrahams se droom om ‘n paramedikus te word nadat hy in Mei vanjaar ‘n vrou en haar babaseun, wat in die nagtelike ure by die vulstasie gebore is, bygestaan het.

LEES OOK: Petroljoggie help ma ná geboorte, droom van paramedikus wees

‘n Backabuddy-fondsinsameling wat begin is om hom te help om sy droom te verwesenlik, staan tans op meer as R80 000.

Meer as seker

Abrahams vertel een van Netcare se paramedici het hom genader en sy kontakbesonderhede gevra met die oog daarop om aan hom die geleentheid te bied om Netcare te besoek en te sien waaroor die werk gaan. “Ek het gesê: ‘Natuurlik!’ Ek vat hierdie geleentheid met albei hande.”

Verlede Woensdag moes hy toe by Netcare Kuilsrivier-hospitaal aanmeld. “Hulle het my die kans gegee om te kom kyk of dit regtig is wat ek wil hê.”

Hy vertel van die “grootkoppe” by die hospitaal het aan hom verduidelik watter vereistes en stappe nodig is om paramedikus te word. Hy moes ook dokumente onderteken voordat hy saam met die ambulans kon ry.

“Een van die menere het my seker drie keer gevra of dit regtig is wat ek wil doen. Hy het gesê dis nie net van babas vang en help nie. Ek sê toe vir hom: ‘Meneer, ek het die dryfkrag, ek wil dit doen. Dis nie net omdat ek daardie vrou gehelp het nie; ek wil meer ervaar. Ek wil dit doen om mense se lewe te red’.”

Abrahams sê dit voel of sy “journey” na paramedikus wees amptelik begin het. Hy kon vir ten minste vier noodgevalle saam met die ambulans ry en voel hy het ‘n goeie idee gekry oor wat die beroep verg. “Ek kon vir myself sê, dit is regtig wat ek wil doen.

“Ek het vir hulle ‘n boodskap gestuur om dankie te sê. Die man het gesê ek is meer as welkom om vir nog skofte te kom. Dit maak my hart baie bly. Dit is net iets ongeloofliks – as dit nie vir die baba (by die vulstasie) was nie, kon ek nie die geleenthede kry wat ek nou kry nie.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article