Chevaan Abrahams
Chevaan Abrahams voor die kiosk by die petrolstasie waar hy die ma bygestaan het. Foto: Carina Roux

Petroljoggie help ma ná geboorte, droom van paramedikus wees

Chevaan Abrahams
Chevaan Abrahams voor die kiosk by die petrolstasie waar hy die ma bygestaan het. Foto: Carina Roux

Vir baie mense sou dit traumaties wees om in die middel van die nag ‘n vrou by ‘n petrolstasie te sien kraam. Vir die 21-jarige Chevaan Abrahams, ‘n petroljoggie by Shell Zevenwacht, was dit net ‘n voorreg om ‘n ma tydens die geboorte van haar baba by te staan – en ‘n bevestiging dat sy droom om ‘n paramedikus te word, moontlik binne bereik is.

Dit is ‘n droom wat hy al lank koester, maar voor Vrydag 22 Mei nooit met enigeen gedeel het nie. Daardie Vrydagoggend was hy nog op nagskof toe ‘n hoogswanger vrou van ‘n nabygeleë plaas te voet by die petrolstasie opgedaag het om hulp te soek.

Kollegas keer

Hy vertel dat hy en sy kollegas besig was met ‘n “TikTok Live” en dat die vrou alleen gesit het. Toe sy in kraam gaan, wou hy dadelik gaan help. “My kollegas hou my toe terug en het gesê ek moenie gaan help nie.”

Die vrou het in die kiosk by die petrolstasie gekraam. Abrahams sê haar “boyfriend” het later opgedaag en sy kollegas het hom toe laat begaan. “Ek was so kwaad dat hulle my nie die geleentheid gegee het om die hele proses mee te maak nie.”

Die ambulans is ontbied, maar het blykbaar nie gou opgedaag nie.

“Daar is koue teëls daar waar sy geboorte gegee het.” Abrahams sê hy het met ‘n paramedikus op die foon gesels en vir die vrou gesê dat sy die baba op haar bors moet sit.

“Dit was net die Here alleen wat haar ‘boyfriend’ gestuur het om ten minste die baba vas te hou en nie op die koue teëls te laat lê nie, voordat ek kon ingaan.”

Chevaan Abrahams
Chevaan Abrahams met die babaseun in sy arms wat in die vroeë oggendure op Vrydag 22 Mei by Shell Zevenwacht gebore is.

Tekens

Hy is darem nie meer kwaad vir sy kollegas nie. “Sy het alleen gelê en hulle het my vasgehou. In daai tyd het ek vir myself gesê, okay right, ek moet nou vir myself sê, ek is steeds op duty, as enigiets verkeerd loop, gaan dit na my toe kom.”

Hy is dankbaar dat hy uiteindelik wel die ma kon bystaan. “Sy het vir my gesê: ‘Ek is so bly dat jy ingestaan het, want hy (haar vriend) weet nie wat om te doen nie’.”

Sowat ‘n maand voor die voorval het Abrahams in ‘n nuwe woonplek in Bluedowns ingetrek, waar ‘n hawelose man een oggend vroeg vir hom ‘n “paramedic jersey” gegee het. “Vir my was daardie oomblik ‘n teken dat so iets gaan gebeur waar ek moet instaan.”

Nadat hy die ma kon bystaan, sê hy: “Daarna het ek gevoel die Here gee steeds vir my tekens dat my droom waar kan word. As daar enigiemand is wat my aan die hand kan vat om verder te gaan …”

In daardie oomblik wat hy toegelaat is om te help, het hy geweet: “Dit is wat ek wil doen.”

LEES OOK: Kinderbeskermingsweek in Kuilsrivier: Kleintyd se kleuters leer van veiligheid

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article