Teen Maandag (15 Junie) was daar al so ampertjies R80 000 ingesamel om ‘n petroljoggie se droom om paramedikus te word, te help verwesenlik.
TygerBurger het verlede week berig oor Chevaan Abrahams (21), ‘n petroljoggie by Shell Zevenwacht-vulstasie, wat in die vroeë oggendure van Vrydag 22 Mei ‘n ma wat in die kiosk by die vulstasie gekraam het, bygestaan het. Vir Abrahams was die ervaring ‘n bevestiging dat sy droom om paramedikus te word dalk tog waar kan word.

LEES OOK: Petroljoggie help ma ná geboorte, droom van paramedikus wees
Daar is wyd oor Abrahams se hulp met die baba en sy droom berig.
‘n Kort video van “CoolStoryBru” op sosiale media het daartoe aanleiding gegee dat Garreth Williamson op 5 Junie ‘n Backabuddy-fondinsameling, getiteld “Help Chevaan Become a Paramedic“, begin het. Die veldtog se aanvanklike mikpunt van R50 000 is binne dae oorskry en teen Maandag 15 Junie was daar reeds R79 284 ingesamel.
Verbaas
Abrahams het Maandag in reaksie op al die media-aandag en die geldinsameling gesê: “Jô, ek is baie verbaas, ek weet nie hoe om dit te uiter nie, maar ek is oorweldig deur die ondersteuning wat ek van Suid-Afrika kry.”
Hy het reeds navraag gedoen by die onderwysdepartement, maar sal eers in Oktober kan aansoek doen om hereksamens te skryf vir matriekvakke wat nodig mag wees.
Die geld wat ingesamel is, sal gaan vir betalings soos nodig. “Die ou wat my gekontak het oor die Backabuddy het gesê die betalings sal volgens fakture geskied.”
Abrahams was nog effens onseker oor al die beskikbare moontlikhede oor opleiding en toelatingsvereistes. Sover is hy bewus van universiteite wat kursusse aanbied en ook dat die provinsiale gesondheidsdepartement ‘n kursus aanbied.
“Maar ek wil nie alles afjaag nie.” Hy is lugtig om sy werk as petroljoggie sommer net te laat vaar. Hy wil eers al die inligting kry en dan kyk hoe hy prakties stap vir stap na sy droom toe kan werk.
LEES OOK: ‘Twinkle, twinkle, you’re a star’ – Cape Town officer wins hearts consoling baby




You must be logged in to post a comment.