Dertien slaggate wat motoriste in Sherwood al ’n geruime tyd lank talle hoofbrekens besorg het, is nou iets van die verlede.
Dít is danksy AfriForum se Gqeberha-tak en Walker Drive-buurtwag se deelname aan dié burgerregteorganisasie se nasionale #VulDieGat-projek wat gedurende Julie by takke landwyd aangepak word. AfriForum-takke oor die hele land heen is vandeesmaand hard aan die werk om met vanjaar se projek slaggate ter waarde van R1 miljoen te herstel.
Volgens Deon de Jager, AfriForum se streekshoof vir die Suidstreek (waaronder die Oos-Kaap ressorteer), is dit nie dat instandhouding van paaie in die Baai glad nie gebeur nie. “Die traagheid waarmee die takeling van instandhouding van dié kritieke infrastruktuur egter aangepak word, veroorsaak ernstige uitdagings vir motoriste in die metro. Die noodsaaklikheid van ’n goeie padnetwerk wat instand gehou word, kan nie oorbeklemtoon word nie. Dit dra direk by tot ekonomiese groei en werkskepping – aspekte waaraan die Oos-Kaap in die besonder veral te kort skiet en dringend aan moet aandag skenk,” benadruk De Jager.
Die Gqeberha-tak en Walker Drive-buurtwag het hul #VulDieGat-aksie op 20 Julie aangepak en sowat 1,5 ton teer vir die herstelwerk van slaggate in Montrose- en Keistraat en Walkerrylaan aangewend.
Die Gqeberha-tak beplan intussen om eersdaags die herstel van nóg slaggate in dié metro te takel en sodoende verdere verligting vir motoriste te bring.





