SKOON is die nuwe inisiatief van die ATKV en die PE Express waarin tien gelukkige lesers die geleentheid kry om elkeen twee dromme vir herwinning tuis te wen.

Die ATKV se Elda Kruger, Streeksbestuurder: Takke, sê die idee agter die projek is om mense te inspireer en dit so maklik as moontlik vir hulle te maak om te herwin.

“Ek dink dat daar regtig nie genoeg be-wusmaking oor die belangrikheid van herwinning is nie. Ek dink dit gaan oor die feit dat mense nie altyd ingelig is nie en die moeite daaraan verbonde.

“Dit is te veel moeite vir mense vandag in die besige lewens wat ons volg, om rond te ry na sentrale punte om herwinningsmateriaal af te laai. So die idee met ons projek is dat ons dit maklik en moeite-vry wil maak vir mense om te herwin. Dus voorsien ons die dromme aan gesinne en reël dat die materiaal opgetel word,” sê Kruger.

“As daar ’n klomp huishoudings is wat almal op klein skaal begin herwin sal ons hopelik ander mense in ons kringe inspireer om dieselfde te doen. Ons hoop dat hierdie ’n deurlopende projek sal wees. Die ATKV streef daarna om groen omgewingspraktyke te bedryf, en dus moet ons ook ons deel doen.”

As jy aan hierdie projek wil deelneem moet jy vir ons ’n video, foto of brief stuur met die redes hoekom jy graag wil begin herwin of hoekom jy nog nie begin het nie.

Daar sal tien wenners gekies word en elkeen sal van twee dromme voorsien word.

Die inskrywings sluit op 16 Maart en die tien wenners sal op 23 Maart aangekondig word.

“Ons sal reël dat die rommel een maal per maand deur ’n herwinningsmaatskappy by jou huis opgelaai word. Ná afloop van die drie maande van die projek, moet jy egter self reëlings met ’n herwinningsmaatskappy tref,” het Bettie Giliomee-Rossouw, EP Media-uitgewer, verduidelik.

So werk dit as jy gekies word:

  • Jy moet elke tweede week ’n foto op jou Facebook-blad plaas, PE Express en ATKV “tag”, en aandui hoe jou herwinnings-ervaring is. Hierdie moet gebeur vir die drie maande wat ons die rommel optel.
  • Jy kan kies water twee items jy wil herwin. Die keuses is glasbottels, papier, blikkies of plastiek.
  • Ná drie maande word die dromme jou eiendom.
  • Herwinningsprojek begin 1 April.

Skryf só in:

Kliek op hierdie skakel om die vorm in te vul. Jy kan jou foto, video of brief/motivering in dié inskrywingsvorm oplaai.

Inspireer mense rondom jou om op klein skaal te begin herwin.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article