Charl Jonck
Charl Jonck die ene konsentrasie. Foto: Verskaf

Charl bring nóg ‘n SA snoeker-titel huis toe


Die Baaienaar Charl Jonck bly maar die giftigste snoekerspeler in Suid-Afrika.

Hy het by Ottery in die Kaap sy soveelste nasionale titel gewen toe hy Faaris Khan in die finaal van die SA Classic met 5-1 geklop het. Khan, wat in 2015 die Suid-Afrikaanse kampioen was, het moedig teruggeveg, maar op die ou einde was Charl se vernuf en vermoë om die uitklophou te plant net te veel.

Charl was soos ‘n skerpskutter genadeloos teen die einde.

Die SA Classic word op ‘n uitklop-basis beslis en daar is min kanse vir spelers om foute te maak. Hulle moet enduit op alle silinders vuur.

Charl was ook in 2022 en 2023 die SA-kampioen. In 2022 het hy in die enkel- en dubbelspel as wenner uit die stryd getree, en in 2023 het hy dié titels suksesvol verdedig maar ook die Classic gewen.

Charl Jonck
Charl Jonck, die ene konsentrasie. Foto: Verskaf

Dié oud-leerder van die Hoërskool Andrew Rabie is besig om hom as een van Suid-Afrika se bestes van alle tye te vestig.

Charl en Kevin Shelver van Despatch het ook die SA-dubbelspeltitel gewen.

Daarna het Charl die SA-kampioenskap in styl afgesluit toe hy ook, sy derde SA enkelspeltitel ingepalm het.

Wanneer hy vir ‘n nasionale kampioenskap inskryf, is daar onmiddellik twyfel in die gemoed van die ander aanspraakmakers.

Die sportbloed loop egter dik in die Jonck-familie. Charl se pa, Johan, het die OP as snoeker-, jukskei- en yshokkie-speler verteenwoordig, terwyl sy oom Kosie ook vir die OP jukskei gespeel het saam met die oud-OP-heelagter Hannes van Vuuren.

Pa Johan is intussen gekies om Noord-Gauteng A2 se Grandmasters (bo 60 jaar) einde Junie by die SA-potspel-kampioenskappe in Potchef-stroom te verteenwoordig.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article