WELLINGTON – Die ondersoekbeampte het vandag in die Wellington-landdroshof getuig dat hy in sy persoonlike hoedanigheid glo daar is slegs ’n klein kans dat die twee Paarlse klubrugbyspelers (23 en 28) hul borgvoorwaardes sal verbreek indien hulle op borgtog vrygelaat word.

Nietemin, het hy tydens dieselfde getuienis bekendgemaak dat hy in sy professionele hoedanigheid van mening is daar ’n “waarskynlikheid” bestaan dat hulle kan vlug en hul verhoor ontduik.

Die getuienis is gelewer tydens die voortgesette skedule-ses borgaansoek van die twee mans, wat glo op vier aanklagte van verkragting teregstaan. Die verdediging, Elton Rochert van Rochert Attorneys het die ondersoekbeampte, kol. Winston Pegram, van die Paarlse Eenheid vir Gesinsgeweld en Kinderbeskerming (FCS), onder kruisverhoor geplaas.

Die beweerde verkragting spruit glo uit ‘n voorval waar ‘n student verbonde aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) se Wellington-kampus verlede week in haar kamer in ‘n studentehuis verkrag is.

Hiérdie getuienis deur Pegram het gekom nadat die verdediging gevra het waar die klaer haarself tans bevind nadat ’n petisie, wat glo ter ondersteuning van haar opgestel is, George as die oorsprong van die petisie aandui.

Pegram het geantwoord dat sy tans in Wellington is, waarna die verdediging gevra het of hy seker is.

Die verdediging voer aan dat indien die klaer in George is en die beskuldigdes in die Paarl woon, dat hul geen gevaar vir haar inhou sou hulle borgaansoek toegestaan word nie.

jn jnjihk
Die ondersoekbeampte in die saak, konst. Winston Pegram, het vandag in die Wellington-landroshof getuig. Foto: Argief/ Jana Scheepers

Pegram het toe gesê dat daar ’n “waarskynlikheid” is dat die twee mans haar mag “seer maak,” asook die voorwaardes van hul borgtog, sou dit toegestaan word, dalk sal verontagsaam en die opdaag vir hul verhoor nie.

Hy het bygevoeg dat hy immers in sy persoonlike hoedanigheid van mening is dat daar ’n klein kans dat twee mans hul borgvoorwaardes sal verbreek

Bekend met familie

Pegram het ook vandag getuig dat hy met familie van beide beskuldigdes vertroud is, ondermeer die 23-jarige se pa en die 28-jarige man se ouma en dat hy weens hierdie rede aan die saak wou onttrek.

Hy het getuig dat hy in dieselfde area as die beskuldigdes se familie gewoon het en dat sý familie steeds daar woon.

Beeldmateriaal

Rochert het ook vir Pegram gevra hoekom hy nie die beeldmateriaal wat die studentehuis se kringtelevisie opgeneem het, aan die verdediging oorhandig nie.

Pegram het toe geantwoord dat die hof nie gevra het dat die beeldmateriaal gedeel word nie, maar dat hy dit wel sal deel wanneer die hof so beslis.

Dié beeldmateriaal wys glo hoe laat die twee beskuldigdes saam met die klaer by die studentehuis opgedaag het waar sy ‘n kamer huur en waar die beweerde verkragting plaasgevind het. Die beeldmateriaal wys glo ook hoe laat die twee mans daar weg is.

Die staat beweer die beskludigdes was ongeveer 45 minute daar terwyl die verdediging aanvoer dat hulle ongeveer 15 minute daar was.

Die staatsaanklaer, Melissa van der Byl het ook ‘n verweer gelewer en gesê dat dit nie die staat se verantwoordelikheid is om enige bewysstukke, insluitend die beeldmateriaal, met die verdediging gedurende die borgaansoek te deel nie.

Die borgaansoek hervat môre (15 Mei)

LEES OOK: Paarlse rugbyspelers beskuldig van groepsverkragting

Die 23-jarige beskuldigde is verbonde aan ‘n bekende rugbyklub in die Boland, maar sou op 3 Mei na Limpopo om by ‘n nuwe rugbyklub aan te sluit.

Die 28-jarige beskuldigde is verbonde aan ‘n rugbyklub in die Swartland-distrik.

Die beskuldigdes se name word ingevolge die Strafproseswet weerhou weens die aard van die beskuldiging en sal eers bekend gemaak word sodra hulle pleit.

Die naam van die klaer word ook ingevolge dieselfde wet weerhou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article