WELLINGTON – Die voortgesette borgaansoek van die twee Paarlse rugbyspelers wat van verkragting beskuldig word, is vandag (26 Mei) weer in die Wellington-landdroshof uitgestel nadat die staat aangedui het dat hy ’n formele aansoek gaan bring dat die voorsittende landdros haar aan die saak onttrek.
Die saak is tot môre (27 Mei) uitgestel sodat die staat sy aansoek om die onttrekking van landdros Marti Wilson kan voorberei en indien.
Hamley Marquard, die streeksaanklaer, het reeds met gister se verskyning aangevoer dat Wilson nie deurgaans konsekwent in haar hantering van die verrigtinge opgetree het nie en dat die staat daarom van mening is dat sy haar aan die saak behoort te onttrek.
Dit het Maandag tot ’n dispuut tussen die staat en die landdros gelei nadat die staat onder die indruk was dat Wilson aangedui het sy onttrek haar aan die saak, terwyl sy volgehou het dat sy dit nie gedoen het nie.
Wilson het Dinsdag aan die hof gesê sy het sedertdien weer na die hofopname geluister en ook met die streeklanddros gekonsulteer. Volgens haar is die hof van mening dat sy haar nie “formeel” aan die saak onttrek het nie en dus sal aanbly as landdros.
Die staat het daarop gevra of ’n formele aansoek vir haar onttrekking dan môre gebring kan word.
Die verdediging, onder leiding van Elton Rochert van Elton Rochert Attorneys in Kaapstad, het gesê hulle het geen beswaar teen die uitstel tot môre nie.
Wilson het egter beklemtoon dat sy nie wil hê die saak moet onnodig vertraag word nie. Sy het aangedui dat sy bereid was om die verrigtinge voort te sit met die ondervraging van die ondersoekbeampte, kol. Winston Pegram van die Paarlse Eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe (FCS), ondanks die uitstel vir die onttrekkingsaansoek.
Marquard het egter beswaar aangeteken en aangevoer dat dit tot ’n onregverdige verhoorproses kan lei. Geen verdere getuienis is daarna aangebied nie.
LEES OOK: Verwarring oor landdros se onttrekking vertraag rugbyspelers se borgaansoek
Die twee rugbyspelers, onderskeidelik 23 en 28 jaar oud, staan tereg op vier aanklagte van verkragting van ’n 21-jarige student aan die Wellington-kampus van die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT).
Die student is na bewering in die vroeë oggendure van 27 April in haar kamer by ’n studentehuis verkrag nadat die beskuldigdes haar glo ’n saamrygeleentheid vanaf ’n nagklub in Newton na haar studente-akkommodasie gegee het.



