‘n Vragmotorbestuurder van Wellington is Maandagmiddag (3Augustus) dood toe die vragmotor wat hy bestuur het, omgeslaan en toe vlamgevat het.
Volgens die polisie het die voorval omstreeks 15:35 op die Vryggunspad in die Windmeul-gebied buite Paarl plaasgevind.
Die oorledene is intussen as Cedric van Wyk, ‘n 53-jarige pa van Wellington, geïdentifiseer.
Konst. Ndakhe Gwala, ‘n polisiewoordvoerder, het by navraag aan Paarl Post gesê inligting dui daarop dat die vragmotor wat deur Van Wyk bestuur is, omgeslaan en toe vlamgevat het.
Van Wyk is op die toneel dood verklaar. Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.
Die polisie het intussen ‘n saak van strafbare manslag geopen.



