‘n 70-jarige vrou is verlede Woensdag (17 Junie) in Jan van Riebeeck-rylaan oorlede nadat sy deur ‘n vragmotor se aangehakte bak getref is.
Volgens ‘n bron wat op die toneel was, was die verkeerslig rooi vir die voertuie wat in die rigting na Wellington ry. Die oorledene het toe die pad oorgesteek en na bewering probeer om tussen ‘n stilstaande vragmotor en ‘n aangehakte bak deur te beweeg. Die voorval het omstreeks 15:30 gebeur, het Thembakazi Mpendukana, ‘n polisiewoordvoerder verduidelik .
“In daardie oomblik het die verkeers- lig na groen oorgeslaan, terwyl die vrou nog besig was om die pad oor te steek, tussen die vragmotor en die bak deur. Die drywer van die vragmotor was nie bewus van die vrou nie en het toe gery.”
Die drywer het vinnig weer die vragmotor tot stilstand gebring toe ander motoriste vir hom getoet het.
“Hy was ook nie eens daarvan bewus dat hy die vrou getref het nie. Teen die tyd wat hy die vragmotor tot stilstand gebring het, is die oorledene al ‘n entjie saamgesleep.”
Paramedici, die Paarl-polisie en die verkeersdienste was vinnig op die toneel. Ná reddingspogings deur die reddings- personeel is die vrou op die toneel dood verklaar.
Eda Barnard, Drakenstein se direkteur van veiligheids- en gemeenskapsdienste, het by navraag gesê die polisie ondersoek die noodlottige ongeluk, en dat die munisipaliteit nie kommentaar sal lewer oor die omstandighede of oorsaak van die voorval nie.
Paarl Post het ook by die munisipali- teit navraag gedoen oor bontlopery (jay walking). Bontlopery of bontlopers verwys na voetgangers wat paaie oorsteek wanneer dit onveilig is, of selfs wanneer dit onwettig is om ‘n pad soos die snelweg oor te steek.
“Die munisipaliteit se verkeersbeamp- tes spreek oortredings deur voetgangers aan deur waarskuwings te rig, omdat oortreders dikwels nie identiteitsdokumente of ‘n bewys van ‘n vaste adres kan verskaf nie, wat ‘n wetlike vereiste vir die administrasie van ‘n boete is,” verduidelik Barnard.
“Die munisipaliteit doen ‘n beroep op voetgangers om slegs aangewese oorgange te gebruik en verkeersreëls te gehoorsaam. Verdere bewusmakingsinisiatiewe word beplan om die publiek beter in te lig oor die gevare van jay walking,” sê Barnard.
‘n Strafbare manslag saak is geopen.





