LANGEBAANWEG – Die gewilde Weskus-lugskou vind vroeg volgende jaar weer plaas en dit is amptelik: Dié twee dae se opwindende lugvaartaksie op 20 en 21 Maart verskuif na die Langebaanweg-lugmagbasis tussen Hopefield en Vredenburg.
Dit is tradisioneel op die Saldanha-vliegveld tussen Vredenburg en Saldanha gehou.
Die lugskou sal deel vorm van die Lugmagbasis se 80ste bestaansjaarvieringe en die legendariese Silwer Valke se 60ste bestaansjaar.

Die organiseerders van die beplande lugskou het die nuwe terrein by Langebaanweg die afgelope naweek saam met verskeie rolspelers, die media en helpers besoek. Die kort besigtigingstoer is deur lt.-kol. SK Esterhuyse, ‘n skakelbeampte van die Suid-Afrikaanse Lugmag, gelei.
Volgens prof. Clive Coetzee, die hoof- organiseerder van die lugskou, vier die geleentheid verskeie mylpale in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Lugmag. “Ons is ongelooflik opgewonde oor die geleentheid om die 2027-lugskou by die Lugmagbasis Langebaanweg aan te bied. Dit is vir ons ook ‘n besondere voorreg om vanjaar se lugskou by só ‘n ikoniese plek in Suid-Afrikaanse lugvaart te hou. Ons sien daarna uit om saam met die Suid-Afrikaanse Lugmag, lugvaartentoesiaste, gesinne en besoekers van oor die land heen hierdie besondere mylpale te vier en ‘n onvergeetlike ervaring vir almal te skep.”
Bekostigbaar
Volgens Coetzee skep die tydsberekening vir die lugskou ‘n ideale geleent- heid vir ‘n ware Weskus-wegbreek.
“Sondag 21 Maart is Menseregtedag, en omdat die openbare vakansiedag op ‘n Sondag val, sal Maandag 22 Maart ook ‘n openbare vakansiedag wees. Besoekers kan dus twee dae vol lugvaart- opwinding geniet, met ‘n ekstra dag daarna om te ontspan of die Weskus verder te verken.”
Die lugskou-naweek in 2027 begin op Saterdag 20 Maart met onder meer amptelike evalueringsvlugte deur deelnemende vertoonvlieëniers.
Besoekers kan dan die vliegtuie in aksie sien en ‘n voorsmakie kry van wat die hooflugskou die volgende dag, 21 Maart, bied.
Saterdagkaartjies het ‘n bekostigbare prys en is volgens die organiseerders ideaal vir lugvaartgeesdriftiges, gesinne, vriendegroepe, lugvaartklubs en gemeenskapsgroepe.
Hoofgeleentheid
“Dit vorm deel van West Coast Airshow se belofte om die opwinding van lugvaart vir ‘n nóg groter gehoor toeganklik te maak. Of besoekers nou saam met familie, vriende, lugvaartklubs of gemeenskapsgroepe kom, hulle kan uitsien na ‘n volle dag van aktiwiteite terwyl die opgewondenheid vir Sondag se hoofgeleentheid verder opbou,” sê Coetzee.

Eetplekke, ‘n biertuin en ander stalletjies, ‘n vermaakgebied vir kinders en verskeie ander aktiwiteite, soos onder meer ‘n hommeltuigpark, die Weskus-radiobeheervliegklub se statiese uitstalling, ‘n Weskus-motoruitstalling en die PlaasMol-padstal buite Hopefield se kuns- en handwerkafdeling, sal ook deel wees van die naweek se opwindende program.
Besoekers kan een of albei dae bywoon, met afsonderlike kaartjies vir Saterdag en Sondag beskikbaar.
Dagkaartjies vir Saterdag en Sondag is by Weskus Tickets beskikbaar.
Verdere besonderhede oor die deelnemende vliegtuie, vertoonspanne en die naweekprogram sal in fases bekend gemaak word.
Volg “West Coast Airshow” op Facebook en Instagram (@wcoastairshow) vir aankondigings en die lugskou se jongste nuus.
Blaai deur Danie Hefers se foto-album:
• Die Weskus-lugskou is laas in 2025 op die Saldanha-vliegveld buite Saldanha gehou, waar ‘n tragiese en noodlottige Impala-vliegongeluk ‘n donker wolk oor die skouverrigtinge gelaat het. Die lugskou het vanjaar in Stellenbosch plaasgevind.
LEES OOK: Weskus-lugskou gou terug














