Teswin Summers, die skrywer van die boek Gorib.
Teswin Summers, die skrywer van die boek Gorib.

Teswin Summers gesels oor sy skryfwerk


LANGEBAAN – Vir Teswin Summers het skryfwerk ‘n kreatiewe uitlaatklep geword.

Dié pa van twee, wat in Lambertsbaai gebore en getoë is, het sy persoonlike lewenservarings gebruik as inspirasie vir sy eerste gepubliseerde boek, Gorib, ‘n verhaal oor identiteit, trauma, erfenis en selfontdekking.

Summers se liefde vir stories het op ‘n jong ouderdom reeds begin.

Sy ma het hom op vyfjarige ouderdom leer lees, terwyl sy pa, ‘n visserman, hom met vertellings van die see en die mense wat hy ontmoet het, grootgemaak het.

Op 15-jarige ouderdom is fibrous ­dysplasia by Summers gediagnoseer – ‘n toestand wat tot twee groot ­operasies gelei het. Hy moes onder meer sy ­rugbydrome laat vaar en het ook met die fisieke en emosionele gevolge van sy toestand geworstel.

“Die grootste verandering was dat ek moes leer om myself op ‘n ander manier te sien. Die lewe wat ek gedink het ek sou hê, het skielik anders begin lyk,” sê hy.

Om te skryf, het later ‘n belangrike manier geword om sy ervarings te ­verwerk.

Sy eerste gedig is selfs in ‘n koerant se tienerkolom gepubliseer.

Die idee vir Gorib het tydens ‘n gesprek met sy jongste seun ontstaan. Die boek vertel die verhaal van ‘n jong Khoi-seun uit die Cederberg, wat ‘n noue ontkoming met ‘n luiperd oorleef, maar met ‘n litteken agterbly.

Die verhaal het oor ongeveer vier jaar ontwikkel – ‘n proses wat Summers ­homself ingeleef het.

“Daar is gewis dele van myself in Gorib. Ek weet hoe dit voel om ‘n ­litteken te dra – wat deel van jou ­identiteit word.”

Summers hoop om lesers deur die boek meer bewus te maak van die Khoi-­erfenis en plaaslike geskiedenis.

“Ek glo ‘n mens is baie meer as die ergste ding wat met jou gebeur het,” sê hy.

Hoewel die publikasie van sy eerste boek ‘n groot mylpaal is, is dit volgens hom nie die einde van sy skryfloopbaan nie. Sy boodskap aan ander is egter eenvoudig – “wees dus ‘n bietjie sagter met mense; gee hulle ‘n kans en luister voordat jy oordeel.”

• As jy belangstel om Gorib, te koop, bel Summers by 071 296 3499.

Die boek kos R150.

LEES OOK: Ouma met ‘n roeping

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 19 November 2026
    Weslander E-Edition – 19 November 2026

Gift this article