Die Weskus-lugskou keer op Saterdag 20 en Sondag 21 Maart 2027 terug met twee dae se lugvaartaksie, ‘n nuwe tuiste en groot feesvieringe.
Waar die nuwe lugskouperseel geleë is, word voorlopig geheim gehou.
Die publiek kan egter aan ‘n kompetisie deelneem om die ligging te raai en vier BBP-kaartjies vir die hooflugskou te wen.
Die lugskou-naweek begin die Saterdag met amptelike validasievlugte deur deelnemende vertoonvlieëniers.
Besoekers kan die vliegtuie in aksie sien en ‘n voorsmakie kry van wat die hooflugskou die volgende dag bied.
Saterdagkaartjies het ‘n bekostigbare prys en is volgens die organiseerders ideaal vir lugvaartgeesdriftiges, gesinne, vriendegroepe, lugvaartklubs en gemeenskapsgroepe.
Die hooflugskou vind op Sondag 21 Maart plaas, met ‘n volledige program vol lugvertonings en optredes. Meer besonderhede oor deelnemers en die program sal later bekendgemaak word.
Omdat Menseregtedag 21 Maart op ‘n Sondag val, is Maandag 22 Maart ook ‘n openbare vakansiedag wat die geleentheid skep vir ‘n langer Weskus-wegbreek.
Die BBP-prys sluit toegang tot die BBP-tent, kos en verversings, BBP-parkering en -toegang asook ‘n geleentheid om deelnemende vlieëniers te ontmoet, in.
Kos en ander stalletjies, ‘n kinder-vermaaklikheidsgebied en nog aktiwiteite sal ook deel van die naweek wees.
Dagkaartjies vir Saterdag en Sondag is by Weskus Tickets beskikbaar.




