Arno van Niekerk se nuutste boek, Wat maak Suid-Afrika spesiaal, is nou beskikbaar.
Arno van Niekerk se nuutste boek, Wat maak Suid-Afrika spesiaal, is nou beskikbaar. FOTO: Lientjie Mentz
BloemNews Express

Nuwe boek kyk na wat Suid-Afrika spesiaal maak

Arno van Niekerk se nuutste boek, Wat maak Suid-Afrika spesiaal, is nou beskikbaar.
Arno van Niekerk se nuutste boek, Wat maak Suid-Afrika spesiaal, is nou beskikbaar. FOTO: Lientjie Mentz

BLOEMFONTEIN – Aan die pragtige mense van Suid-Afrika, in al hul kleur en verskeidenheid.

Só dra Bloemfonteinse ekonoom en skrywer prof. Arno van Niekerk sy nuutste boek, Wat maak Suid-Afrika spesiaal?, aan Suid-Afrikaners op.

“Ek het in ‘n hotelkamer in Salzburg in Oostenryk gesit en gedink aan hoe spesiaal Suid-Afrikaners is. Ek het die prentjie in my kop gesien van die Springbokke en die suksesresep wat hulle gehad het om die land se mense bymekaar te bring,” vertel hy.

“Siya Kolisi en Rassie Erasmus het dit reggekry om ‘n span wat só divers is, as ‘n wonderlike eenheid te laat funksioneer. Ek het besef hoe waardevol die krag van eenheid is.”

Prof. Arno van Niekerk se boek.

Binne ‘n maand het Van Niekerk hierdie gedagte geneem en ‘n boek geskryf om vir Suid-Afrikaners te wys wat almal saambind.

In die voorwoord tot die boek sê gerespekteerde nasiebouers John Mathuhle: “Daar is min boeke wat ons laat lag vir onsself, terwyl dit ons terselfdertyd uitnooi om dieper waarhede oor wie ons as mense is, in die oë te kyk. Dit is vir my ‘n groot eer om prof. Arno van Niekerk te ken – ‘n briljante, maar nederige mens wie se diepe liefde vir ons pragtige land en sy ryk verskeidenheid kulture sigbaar is in wat hy doen.”

Nog ‘n vriend van Van Niekerk, die akteur Zane Meas, skryf: “Hierdie boek is skerpsinnig, soms snaaks, soms eerlik tot op die been – maar altyd diep menslik.

“Arno het daarin geslaag om te sê wat baie van ons voel, maar dikwels sukkel om in woorde uit te druk. Hy herinner ons aan iets belangrik met hierdie vraag: ‘Is hierdie hele misverstand oor ‘swart’ en ‘wit’ nie iets waaroor ons eers moet kan lag nie? Ons moet nooit die vermoë verloor om vir onsself te lag nie’, ” skryf Meas.

Van Niekerk neem sy waarnemings en belewenisse oor dekades en skryf hoe eenheid die antwoord is op ‘n toekoms vir die land.

Hy meen die chaos skep geleenthede vir ‘n nuwe begin.

“Ons moet dit wat spesiaal aan Suid-Afrikaners is, ontsluit,” sê hy.

“Eenheid in diversiteit beteken nie ons maak asof almal dieselfde is nie. Dit beteken ons is erken dat ons verskillend is en kies om tóg saam te werk. Dit beteken ons luister meer, maak minder aannames en bly nuuskierig in plaas van agterdogtig.

“Samewerking en begrip bou brûe, en brûe is baie nuttiger as jy werklik vorentoe wil beweeg.”

Die boek vra optrede van die leser. Dit vra die leser om saam met hom na te dink en dit is ‘n uitnodiging om saam te bou aan ‘n beter toekoms.

Van Niekerk skryf hierdie boek vir almal wat homself of haarself ‘n Suid-Afrikaner noem.

Om met almal te praat, is die boek reeds in Afrikaans en Engels beskikbaar, en beplan hy ook om dit in ander landstale soos Sotho, Zoeloe, Xhosa en Tswana te laat vertaal. Rig navrae aan hom deur ‘n WhatsApp-boodskap na 084 208 6211 te stuur.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article