Mense wat onwettig murasies in Rayton bewoon, laat inwoners bekommerd.
DA-wyksraadslid Johan Pretorius sê hy het die perseel in Frans Kleynhansweg net duskant die duikweg by die N1, besoek.
Hy sê hy het amptenare van die Mangaung Metro op 9 April ingelig van die onwettige besetting en die diefstal van water waar ‘n munisipale waterpyp oop gegrawe is en ‘n onregmatige konneksie geïnstalleer is, maar steeds is daar nie opgetree teen die oortreders nie.

Hy sê duisende liters skoon drinkwater word by die onwettige konneksie vermors.
“Dit is onaanvaarbaar in ‘n metro waar inwoners reeds watertekorte en mislukte infrastruktuur ervaar,” het Pretorius gesê.
Hy sê ten minste drie vervalle strukture – sonder dakke, deure of volledige mure – word onwettig beset. Hy sê Inwoners in die omgewing het gekla oor kriminele aktiwiteit, inbrake en veiligheidsrisiko’s.
‘n Inwoner van Rayton sê sy het die pyp wat lek reeds in 2018 by iemand by die Mangaung-metro aangemeld en sedertdien loop dit nog die heeltyd.
Die DA sal nou ‘n formele Reël 38-vraag indien en die saak na die Artikel 80 tegniese dienskomitee verwys.
Pretorius het ‘n dubbele standaard uitgewys: “Inwoners wat agter raak met die bataling van rekeninge se water word onmiddellik ontkoppel, maar onwettige waterdiefstal word geïgnoreer.”
Die party het ook die eienaar van die perseel gekontak om hulle te waarsku dat hulle verantwoordelik is om die perseel te beveilig.
“Inwoners verdien ‘n munisipaliteit wat gemeenskappe beskerm, skoon water beveilig en die wet regverdig toepas,” het Pretorius gesê.







You must be logged in to post a comment.