Rioolwater vloei in die Renosterspruit.
Rioolwater vloei in die Renosterspruit.

KYK | Dooie babers wys op skokkende besoedeling van Renosterspruit buite Bloemfontein


Wat eens ‘n lieflike spruit was wat deur die hoewegebiede buite Bloemfontein gevloei het, het verander in ‘n grillerige stroom waarin visse vrek en selfs kalfies verdrink.

Inwoners van Roodewal en Ribbesdale het vroeër die week vir BloemNuusExpress videos gestuur van dooie babers wat in die die Renosterspruit dryf. Hulle sê die karpe in die spruit het twee jaar gelede gevrek en nou sukkel selfs die geharde babers om in die vieslike vuil water van die spruit te oorleef.

Rudi Maartens, DA-wyksraadslid, sê die grootste oorsaak vir die vuil water in die spruit is die Sterkwater-rioolaanleg wat nie behoorlik werk nie.

Bolle skuim in Renosterspruit.
Bolle skuim in Renosterspruit. FOTO: Verskaf

“In November is ondersoek ingestel by Sterkwater toe die kanale verstop was. Daar is dooie kalfies in die kanale gekry wat tot verstoppings by die rioolaanleg gelei het. Dit het gemaak dat rioolwater nie by die aanleg kon inloop nie en het verby die aanleg direk in die spruit gevloei.”

Nou loop daar weer groot bolle skuim waar die water van die rioolplaas in die spruit uitloop.

Maartens sê die voortslepende nalatigheid van die Mangaung Metro stel inwoners aan ernstige gesondheidsrisiko’s, die besoedeling van riviere, die skending van mense se konstitusionele regte en skep groot probleme vir gemeenskappe binne die metro.

Inwoners wys dooie babers in Renosterspruit. VIDEO: Verskaf

“Honderde dooie babers dryf sedert Maandag in die Renosterspruit. Dit is duidelike bewyse van die krisis en die gevaar waarin gemeenskappe hulle bevind,” sê hy.

Maartens sê die Departement Water en Sanitasiehet reeds ‘n kennisgewing aan die metro uitgereik. “Dit bevestig dat Mangaung se rioolwateraanlegte en die bestuur daarvan nie net faal nie, maar ook die gesondheid van inwoners in gevaar stel en die ekologiese balans van plaaslike riviere vernietig.”

Hierdie ontwikkelings volg kort nadat die DA versoek het dat dissiplinêre klagte teen die stadsbestuurder, Sello More, ondersoek word. ‘n Skuldbrief van R2,2 miljoen met rente is ook deur die ouditeur-generaal aan More oorhandig. Maartens sê die boodskap is duidelik: Mangaung se leierskap het sy gemeenskap in die steek gelaat.

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAHRC) het bevind dat Mangaung die grondwetlike regte van sy inwoners skend, insluitend die regte op menswaardigheid, lewe, ‘n gesonde omgewing, en kinders se regte op veiligheid en onderwys.

Dooie babers dryf oral in die Renosterspruit. VIDEO: Verskaf

In Bloemfontein, Botshabelo en Thaba Nchu word kinders letterlik gedwing om oor rioolstrome te spring om skool toe te gaan. Inwoners ly aan asemhalingsiektes en word gedwing om daagliks tussen oorlopende riool, verwaarloosde infrastruktuur en onwettige stortingsplekke te leef.

Die Ouditeur-generaal het verder bevestig dat die Botshabelo-, Sterkwater- en Thaba Nchu-rioolbehandelingsaanlegte nie funksioneer nie en dat rou riool direk in die Klein Modderrivier, Renosterspruit en Sepane-riviere vloei.

Maartens sê hierdie krisis is nie bloot ‘n administratiewe mislukking nie. “Dit is ‘n menseregteskandaal wat onmiddellike en beslissende optrede vereis.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article