'n Ondersoek word gedoen om besoedeling in Renosterspruit te keer.
Die inloop van besoedelde water in die Renosterspruit.

Visvrektes en besoedeling van Renosterspruit ondersoek


BLOEMFONTEIN – ‘n Ondersoek is deur die Vaal-Orange Catchment Management Agency (VOCMA) gedoen ná klagtes van inwoners oor die besoedeling van die Renosterspruit.

In antwoord op navrae en ‘n berig in BloemNuusExpress van 20 Augustus, en ‘n aanlynberig, het VOCMA gesê ‘n inspeksie saam met die departement van water en sanitasie (DWS) is op 10 Augustus deur amptenare gedoen. Amptenare het ook gaan kyk na die moontlikhede van die oorsprong van die besoedeling.

Tydens 'n besoek op 13 Augustus van VF Plus-raadslede by die besoedelde Renosterspruit
Tydens ‘n besoek op 13 Augustus van VF Plus-raadslede by die besoedelde Renosterspruit waar dooie babers oral gedryf het, is van links Richard Carey (inwoner), Elizabeth Snyman-Van Deventer en Henry Denner. FOTO: Lientjie Mentz

‘n Woordvoerder van VOCMA sê hulle het bevind daar is bewyse van rou riool in die spruit, erge riool-reuke asook visvrektes soos in BloemNuusExpress berig is.

Daar sal nou ‘n wetenskaplike ondersoek volg om te bepaal wat die bron, omvang en die graad van besoedeling is.

In die verklaring wat op 28 Augustus uitgereik is, sê VOCMA die voorval stem ooreen met historiese watergehalte-neigings binne die Renosterspruit-opvanggebied. Langtermynmonitering wat deur DWS by Bishop’s Glen uitgevoer is, het ‘n volgehoue agteruitgang in watergehalte in die Renosterspruit aangedui, insluitend verhoogde voedingstofkonsentrasies, toenemende opgeloste besoedelingslading, en ammoniakvlakke wat dikwels met afvalwaterbesoedeling geassosieer word.

Hierdie neigings dui op voortdurende druk op die rivierstelsel en wek kommer oor die gesondheid van die ekostelsel van die water en moontlike impakte op watergebruikers laer in die stroom af.

Skuim op die Renosterspruit. FOTO: Verskaf
Skuim op die Renosterspruit. FOTO: Verskaf

BloemNuusExpress het berig oor die Sterkwater-rioolaanleg wat heeltemal buite werking is. Die wateragentskapneem kennis daarvan en sê verskeie rioolsuiweringswerke binne die Renosterspruit-opvanggebied is voorheen deur regulatoriese inspeksies geëvalueer.

Bevindings dui op operasionele en instandhoudingsuitdagings by van die geriewe, insluitend infrastruktuuragteruitgang, toerustingfoute, onvoldoende instandhouding, onvoldoende prosesmonitering, en die afwesigheid van effektiewe ontsmettingsprosesse by sommige aanlegte.

Rou riool vloei verby die Sterkwater-rioolsuiweringsaanleg
Rou riool vloei verby die Sterkwater-rioolsuiweringsaanleg. Die nuwe aanleg wat in die middel van die foto sigbaar is, is nooit voltooi nie en die ou aanleg daaragter, is buite werking. FOTO: Lientjie Mentz

Die agentskap het nou onderneem om saam met die DWS ‘n uitgebreide nakomingsinspeksie te doen by Sterkwater en die Noord-Oostelike-suiweringaanlegte. Daar sal ook wetenskaplike monsters geanaliseer word om die oorspronng van die besoedeling aan te dui en toetse gedoen word oor die chemiese, mikrobiese en voedingstowwe in die water te bepaal.

VOCMA beloof om saam met die departement en die Mangaung-metro die voorval te ondersoek en verdere besoedeling van die Renosterspruit-rivierstelsel te bekamp.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article