‘n Omgewings- en humanitêre ramp bedreig inwoners aangrensend tot die Renosterspruit in Bloemfontein.
Die spruit is die afgelope jare toenemend besoedel, maar die afgelope twee weke het reuse dooie babers wat oral op die oewer van die rivier uitspoel, die gevaartekens van dié ramp bevestig.

Inwoners aan die oewer van die Renosterspruit sê hulle kan nie met die stank saamleef nie.
Richard Carey, een van die inwoners langs die rivier in Roodewal, sê hy moet elke dag die dooie visse en gemors langs sy eiendom skoonmaak.
Carey het vandeesweek ‘n brief aan die nasionale departement van water en sanitasie gestuur waarin hy sê die rivierstelsel wat die opvangsgebied van drie rioolaanlegte is, is vol rou riool wat die stelsel besoedel. Weens sie besoedeling van die afgelope paar jaar het die meeste van die visspesies reeds uitgesterf en net die babers het oorleef, maar selfs hierdie visse vrek nou in hul honderde.

Die kantoor van adjunkminister van water en sanitasie dr. Jack Bloom het ontvangs erken van ‘n dringende brief wat Carey geskryf het. “Hierdie saak is dringend omdat ons ons fauna, flora en inwoners se lewensmiddele in en om ons rivierstelsels moet beskerm,” sê Carey. “Die riool het ‘n reuse-invloed op die omgewing weens die giftige toestande van die water wat uit die drie rioolanlegte die stelsel binnevloei.”
Inwoners het reeds verlede week foto’s gestuur van skuim-water wat vanaf die Noord-oos rioolaanleg in Roodewal in die Renosterspruit vloei.
Lees ook: KYK: Dooie babers wys op skokkende besoedeling van Renosterspruit buite Bloemfontein.
VF Plus-raadslede Elizabeth Snyman-Van Deventer en Henry Denner het saam met inwoners van Roodewal die Sterkwater-rioolaanleg hoër op in die Renosterspruit besoek. Dié aanleg is buite werking en rou riool vloei verby die aanleg en beland direk in die spruit. ‘n Nuwe deel is sowat 10 jaar gelede by Sterkwater gebou, maar dit is nooit voltooi nie. Slegs die betonstruktuur is voltooi, maar die skroewe is nooit geïnstalleer nie en die damme is nooit in werking gestel nie. Die ou aanleg wat intussen die werk moet doen, is buite werking.

Inwoners sê die Noord-oos-aanleg wat ook ongeveer 10 jaar gelede gebou is, is ook nooit heeltemal voltooi nie.
Hulle sê wanneer dit reën, verlig dit die stank en gemors wat in die rivier afvloei effens, maar sodra dit vir ‘n tyd nie reën nie, is toestande hier onuithoudbaar.
Heelwat ondernemings en selfs gastehuise is direk langs die rivier geleë en eienaars stoei met die ongaangename toestande wat weens die wanbestuur van die metro by die dag vererger en hul ondernemings se toekoms bedreig.







You must be logged in to post a comment.