Sello More FOTO: Argief

Politieke inmenging in ondersoek na Mangaung-stadsbestuurder, nie geduld

,

Die burgerregte-organisasie AfriForum het die Mangaung-metro se raadsbesluit om ‘n dissiplinêre proses teen die stadsbestuurder Sello More in te stel, verwelkom.

Die DA in die Mangaung-metro het op Dinsdag 21 Julie op ‘n spesiale raadsvergadering versoek dat so ‘n proses deur ‘n onafhanklike ondersoeker moet begin.

‘n Lys van 18 aantygings is gebring wat volgens munisipale regulasies ondersoek moet word.

Die bevindinge moet binne 30 dae voor die Mangaung-raad dien.

Dit is die munisipale bestuurder wat in Julie 2025 ‘n punt van 100% vir sy KPI-evaluering ontvang het en homself ‘n salarisverhoging van R700 000 gegee het. Die burgerregte-organisasie AfriForum eis al sedert April vanjaar dat hy bedank.

More het begin Julie ‘n skuldbrief van die ouditeur-generaal (OG) ontvang waarin hy as rekenpligtige amptenaar aangewys word. Dit is vir R2,2 miljoen wat die metro aan kontrakteurs betaal het wat nooit die werk gedoen het nie. Hy is in sy persoonlike hoedanigheid aanspreeklik vir die bedrag wat saam met rente nou R2,9 miljoen is. Hy het aangedui dat hy die bevinding in die hoogeregshof gaan beveg.

AfriForum het die onafhanklike ondersoek teen die stadsbestuurder verwelkom, maar gewaarsku teen politieke inmenging.

AfriForum het in April ‘n beroep op More gedoen om sy pos te ontruim.

Volgens Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein, erken die raad met sy besluit om ’n onafhanklike ondersoek te laat doen, dat die aantygings teen More ernstig genoeg is om behoorlik ondersoek te word. “Die inwoners van die Mangaung-metro verdien ’n munisipale administrasie wat verantwoordbaar optree en in belang van die gemeenskap bestuur word,” verduidelik hy.

Die aantygings deur die DA stam uit die bevindinge van die OG op 27 Januarie, asook More se versuim om statutêre, regering- en raadsverpligtinge na te kom.

Van die klagtes is dat die stadsbestuurder nie raadslede se vrae beantwoord nie en hulle dus nie toegang gee tot toepaslike inligting om hul oorsigwerk te doen nie.

Hy word ook daarvan beskuldig dat hy volgens die OG se bevindinge nie die stad se inkomstebestuur effektief doen nie; met geen betroubare data oor waterrekeninge en gebruikers wat nie rekeninge ontvang het nie, wat gelei het tot groot geldelike verliese en onakkurate geldelike verslae.

More word daarvan beskuldig dat hy nie ongeoorloofde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwiste uitgawes bestuur het nie; verder dat hy amptenare nie verantwoordelik gehou het vir die uitgawes nie en geen dissiplinêre stappe teen hulle ingestel het nie.

Die OG het bevind daar is nie ‘n doeltreffende inkomstestelsel nie, geen deeglike batebestuurstelsel en swakhede in die interne beheermaatreëls. Nasionale Tesourie se weerhouding van Julie se staatsgeld is ook voor die munisipale bestuur se deur gelê.

Groenewald waarsku egter dat die ondersoek nie bloot ’n prosedurele oefening mag wees nie, maar – indien bewerings van wanbestuur teen More bevestig word – moet lei tot daadwerklike optrede.

“Die publiek se vertroue in die metro is reeds ernstig geskaad deur jare se swak bestuur, finansiële probleme en gebrekkige dienslewering. Indien die ondersoek voldoende bewyse van wangedrag oplewer, moet die metroraad sonder versuim dissiplinêre stappe doen en, waar nodig, die saak na die toepaslike wetstoepassingsowerhede verwys. Niemand is bo die wet verhewe nie.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article