BLOEMFONTEIN – Die somer is om die draai, maar vir kinders wat in gemeenskappe oor die metro heen is daar geen hoop om af te koel nie. Die meerderheid van die Mangaung-metro se swembaddens is óf totaal vervalle, of onbruikbaar.
Die DA se burgermeesterskandidaat vir die metro, Werner Pretorius, het verlede week swembaddens oor die metro heen, wat talle dorpe om die stad insluit, besoek.

Pretorius sê die ANC-beheerde metro het toegelaat dat die munisipaliteit se swembaddens en ontspanningsgeriewe verval tot onveilige en onbruikbare ruimtes in die stad.
“Wat plekke moet wees vir gesinne om saam te kuier, waar kinders kan leer swem en waar jong mense hul sporttalente kan oefen, word verwaarloos, gevandaliseer en in sommige gevalle heeltemal verlate.”
Hy was by die swembaddens in Bloemanda en Heidedal wat albei vir die publiek gesluit is en vol donker, stinkende water is. Die DA het gehoor dat die swembad in Heidedal se toestand te wyte is aan pompe en elektriese toerusting wat gesteel of gevandaliseer is.

Inwoners van Bloemfontein weet dit is geen nuwe toedrag van sake nie. Lees wat BloemNuusExpress in September 2023 geskryf het.
In dorpe soos Botshabelo en Thaba Nchu waar meer as 200 000 inwoners is, is die swembaddens verwaarloos en in onbruik.
Ook in Dewetsdorp en Wepener lê die dorpe se swembaddens vervalle en verlate.
In Bloemfontein is die toestand van die historiese Arthur Nathan-swembad bekend. Pretorius sê daar is soveel potensiaal vir ‘n openbare/private-vennootskap hier wat kan toesien dat die swembad en sy geriewe in ere herstel word. Hy sê veral gesien in die aansienlike belegging van private beleggers om studente-akkommodasie hier naby in Unielaan te ontwikkel.

“Die metro het konsekwent nagelaat om sy geriewe in stand te hou, op te gradeer en te beveiling. Dit het gemeenskape sonder veilige, funksionele ruimtes vir ontspanning en sport gelaat.”
Pretorius sê as die DA beheer het oor plaaslike regering, sal die party toesien dat munisipale geriewe in stand gehou word deur staatssubsidies wat vir hierdie geriewe geoormerk word. “Die DA sal saam met die privaatsektor werk om die gehalte van die metro se ontspannings-infrastruktuur te verbeter. Ons wil toesien dat hierdie geriewe vir die inwoners van die metro werk.”






You must be logged in to post a comment.