Chaos het op Maandag 4 Mei uitgebreek op die Mangaung-metro se openbare deelnamevergadering wat in die Bram Fischer-gebou gehou is. Dit was die laaste van dié vergaderings wat oor die metro heen plaasgevind het om die gemeenskap in te lig oor die voorgestelde begroting en die geïntegreerde ontwikkelingsplan vir 2026/27.
Dit was veral die vullisverwyderings-kontrakteurs wat sterk beswaar gemaak het op die voorgestelde tariewe wat gehef gaan word. Geregistreerde kontrakteurs sal voortaan vir vragte van 500kg tot 1 ton R300 per vrag en vir 1 ton of meer R700 of meer moet opdok.

Volgens talle kontrakteurs wat Maandag op die vergadering was, sal hierdie duur tariewe wat eensklaps gehef word, hul besighede kelder en hul werknemers se werk in gevaar stel.
Van die kontrakteurs het hul werkers saamgebring na die vergadering en een van die kontrakteurs het in ‘n stadium gesê die werkers moet opstaan.
“Sal jy wil sien dat al hierdie mense hul werk verloor?” het een van die kontrakteurs aan die finansiële hoof van die metro, Zuziwe Thekiso, gevra.
Nog een het aan haar gevra: “Sou jy bereid wees om R1500 te betaal dat ek jou tuinvullis wegry?”
‘n Ander kontrakteur en vroeër aan BloemNuusExpress gesê daar is sowat 1 500 werknemers wat vir sowat 200 privaat kontrakteurs in die metro werk. Hulle almal se werk is in die weegskaal as hierdie tariewe ingestel het. Dit sluit dromdienste, tuindienste, vullisverwyderingsdienste en kontrakteurs met skips in.
“Ons ry nie net een keer ‘n dag om vullis af te laai nie, die meeste kontrakteurs ry tot agt of nege keer per dag met vragte van tussen 2 en 3 ton. Dit kan maklik uitwerk tot sowat R7000 per dag. Boonop is die winsgrens op hierdie dienste nie baie hoog nie.”
Hy sê die probleem is nie dat die kontrakteurs nie wil betaal nie. “Ons is bereid om ‘n redelike prys te betaal. Maar om skielik hierdie hoë tariewe te betaal, gaan nie werk nie. Klante gaan ook nie sulke verhoogte tariewe kan bekostig nie,”
Hy sê hierdie dienste het juis ontstaan uit die nood van inwoners van Mangaung wie se vullis nie gereeld deur die metro verwyder word nie. Die metro verwyder ook glad nie tuinvullis nie, so die dienste van privaatkontrakteurs in dié metro vervul ‘n baie belangrike rol.
Ná afloop van die vergadering, het Thekiso gevra dat vullisverwyderingskontrakteurs besonderhede aan die metro moet verskaf die metro te help om ‘n ingeligte besluit te neem met inagneming van dié voorleggings. Kontrakteurs word gevra om voor Woensdag 6 Mei ‘n e-pos na IDPcomments@mangaung.co.za te stuur oor die hoeveelheid vragte wat per dag en per maand by die stortingstereine afgelaai word; tonnemaat wat per dag en per maand afgelewer word; en hoe die voorgestelde nuwe tariewe hul ondernemings sal beïnvloed.






You must be logged in to post a comment.