Reis jy iewers in Suid-Afrika, is die kanse goed dat jy iewers langs die pad ‘n naambordjie gaan vind wat eindig op fontein. Danksy prof. Matilda Burden, ‘n bekroonde kultuurhistorikus, navorser en skrywer, se werk oor agt jaar, het die koffietafelboek Opreisfontein verskyn.
Sy het in Junie by die Oorlogs-museum van die Boererepublieke gesels oor die reise wat sy en haar man, Hugo, onderneem het om die boek saam te stel.

Opreisfontein: ‘n Ondersoek na fonteinname in Suid-Afrika is saamgestel met veldwerk wat oor 146 006km onderneem is en beslaan 5 600 name. Dit sluit meestal plaasname in, maar ook dié van dorpe, woonbuurte, stasies, skole, plekke en stede – soos Bloemfontein. Burden sê die navorsing gaan vir haar in die eerste plek oor die Afrikaanse taal.
“Daar is ongelooflike en onverwagse woorde wat gekoppel met fontein unieke plekname vorm. Dit is veral moontlik omdat die woorde gekoppel met fontein in Afrikaans een woord maak. Dit is net nog ‘n voorbeeld van die elastisiteit van ons taal.”
Sy sê sy was bewus van ‘n hele paar name wat op fontein eindig.
“Ek het verwag daar sal so 1 500 name wees, maar uiteindelik het ons 5 600 name opgeteken.”
In die 358 dae oor 26 toere van twee maande elk en 16 dagtoere, het hulle aanvanklik sowat 10 name per dag gedokumenteer.
“Later, toe ons ‘n roetine gevind het, het ons tussen 40 en 50 ‘n dag aangeteken.”
Burden sê mense dink dit is oor die mens se hunkering na water in Suid-Afrika dat fontein in die naam voorkom.
“Volgens my navorsing is dit nie so nie. Die plekke is juis só genoem omdat daar standhoudende fonteine is.”
Die Vrystaat het die meeste fonteinname: 1 315.
Iets besonders is die versameling van 5 057 foto’s van naamborde wat op die reise afgeneem is. Burden het die koördinate van elke naambord opgeteken in die navorsing, al verskyn dit om veiligheidsredes nie in die boek nie. Elke foto het ‘n nommer met die pad waarlangs die bord staan en naby watter dorp in watter provinsie dit is.
Bestellings vir dié besonderse boek kan geplaas word deur ‘n e-pos te stuur na mb4@sun.ac.za.
Staan die kans om hierdie pragboek te wen deur die inskrywing op BloemNuusExpress se Facebookblad te like.







You must be logged in to post a comment.