BLOEMFONTEIN – Reis jy iewers in Suid-Afrika, is die kanse goed dat jy iewers langs die pad ‘n naambordjie gaan vind wat eindig op fontein.
Danksy prof. Matilda Burden, ‘n bekroonde kultuurhistorikus, navorser en skrywer se werk oor agt jaar, het die pragtige koffietafelboek Opreisfontein onlangs verskyn.

Sy het op Dinsdag 16 Junie by die Oorlogsmuseum kom gesels oor die reise wat sy en haar man, Hugo, onderneem het om die boek saam te stel.
Opreisfontein: ‘n Ondersoek na fonteinname in Suid-Afrika is saamgestel met veldwerk wat oor
146 006km onderneem is en beslaan 5 600 name wat op fontein eindig. Dit sluit meestal plaasname, maar ook dorpe, woonbuurte, stasies, myle, skole, plekke en stede – soos Bloemfontein – in.
Burden sê die stuk navorsing gaan vir haar in die eerste plek oor die Afrikaanse taal. “Daar is ongelooflike en onverwagse woorde wat gekoppel met fontein unieke plekname vorm. Dit is veral moontlik omdat die woorde gekoppel met fontein in Afrikaans een woord maak. Dit is net nog ‘n voorbeeld van die elastisiteit van ons taal.”
Sy sê sy was bewus van ‘n hele paar name wat op fontein eindig. “Ek het verwag daar sal so 1500 name wees, maar uiteindelik het ons 5600 name opgeteken.”
In die 358 dae oor 26 toere van twee maande elk en 16 dagtoere, het hulle aanvanklik sowat 10 name per dag gedokumenteer. “Later, toe ons ‘n roetine gevind het, het ons tussen 40 en 50 ‘n dag aangeteken.”

Burden sê mense dink dit is oor die mens se hunkering na water in Suid-Afrika dat fontein in die naam voorkom. “Volgens my navorsing is dit nie so nie. Die plekke is juis genoem omdat daar standhoudende fonteine is. Boonop is dit interessant dat die meeste van die name met fontein in juis in die Vrystaat voorkom.”
Sy sê die Vrystaat spog met die meeste fonteinname – naamlik 1 315.
Iets besonders van die boek, is die kosbare versameling van 5 057 foto’s van naamborde wat op die reise afgeneem is. Burden het ook die koördinate van elke naambord opgeteken in die navorsing, al verskyn dit om veiligheidsredes nie in die boek nie.
Elke foto het ‘n nommer met die pad waarlangs die bord voorkom en naby watter dorp in watter provinsie dit voorkom.
As jy dus weer op reis is in Suid-Afrika, kyk uit vir wonderlike name soos Trompetterfontein, Vyeboomfontein, Paddafontein en Holgatfontein.
En ja, daar was beslis ‘n plaas Tweebuffelsmeteenskootmorskoodgeskietfontein, maar dié naam is intussen verkort.
Bestellings vir dié besonderse boek kan geplaas word deur ‘n e-pos te stuur na mb4@sun.ac.za.
Een leser staan die kans om ‘n kopie van Opreisfontein te wen. Besoek BloemNuusExpress se Facebook-blad en skryf in ‘Comments’ in die inskrywing oor Opreisfontein op Donderdag 2 Julie wat jou gunsteling plek is wat eindig op ‘fontein’. Een leser staan die kans om die boek te wen.
Volg die skakel terug na die Facebook-blad hier.







You must be logged in to post a comment.