Nie net is Suid-Afrika vol wonderlike plekname nie, elke rivier, dorp en selfs fontein is uniek en eie aan die land.

Prof Matilda Burden, ‘n kundige in Suid-Afrikaanse kultuurgeskiedenis, het ‘n besonderse boek geskryf oor fonteine se name in die land.

Besoekers kry op Jeugdag – Dinsdag 16 Junie – die geleentheid om die boekbekendstelling van Opreisfontein – ‘n Ondersoek na fonteinname in Suid-Afrika by die Oorlogmuseum in Bloemfontein by te woon.

Opreisfontein - 'n Ondersoek na fonteinname in Suid-Afrika

Kom luister self na hierdie bekroonde kultuurhistorikus, navorser en skrywer en ontmoet haar op die bekendstellingsgeleentheid.

Burden het haar lewe gewy aan die bewaring en bestudering van Suid-Afrika se kultuur- en erfenisgeskiedenis. Met ’n loopbaan van 43 jaar, ses boeke, meer as 40 akademiese artikels, talle eerbewyse en honderde openbare lesings agter haar naam, word sy gereken as een van die land se voorste kenners van kultuurgeskiedenis en plekname.

Vir hierdie boek het sy oor agt jaar navorsing gedoen, meer as 146 000 km afgelê en 5 638 fonteinname regoor Suid-Afrika opgeteken en ontleed. Die resultaat is ’n fassinerende reis deur ons geskiedenis, taal, humor en die besondere verhouding tussen mense en water.

Kom hoor waarom die Vrystaat die meeste fonteinname het, waarom Rietfontein die gewildste naam is, en ontdek die stories agter kleurvolle name soos Koesterfontein, Voëlroepersfontein, Tabaksakfontein en selfs die legendariese Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskietfontein.

Die bekendstelling vind Dinsdag om 10:30 by die Oorlogsmuseum plaas. Boeke sal teen ‘n spesiale bekendstellingsprys van R700 beskikbaar wees. Bespreek deur 084 864 8094 te skakel.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article