BLOEMFONTEIN – Afrikaans se geskiedenis was nooit eenvoudig of netjies nie – dis soms kompleks en betwis, soms pragttig en soms pynlik.

So het die minister vir sport, kuns en kultuur, Gayton McKenzie, Saterdag 9 Mei by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in die stad gesê op die 101ste verjaardag van die Afrikaanse taal.

Die Afrikaanse musiekant Nàdine saam met minister Gayton McKenzie Saterdag 9 Mei in Bloemfontein
Die Afrikaanse musiekant Nàdine saam met minister Gayton McKenzie Saterdag 9 Mei in Bloemfontein. FOTO: Lientjie Mentz

Die departement het saam met die museum ‘n daglange program aangebied om die rykdom en diversiteit van die Afrikaanse taal en kultuur te vier.

Die gebore Heidedaller het gesê hy praat nie as ‘n besoeker nie, maar as ‘n kind van die stad waar hy die wêreld in Afrikaans leer ken het. “Ons vier nie vandag hierdie mylpaal uit selfvoldaanheid nie, maar uit dankbaarheid. ‘n Mens moet nooit skaam wees om te sê dat Afrikaans jou eerste taal is nie,” het hy op die geleentheid gesê.

Gaste op die dag se verrigtinge is van links Matthew van der Ross, Virginè Sammy en David van der Ross.
Gaste op die dag se verrigtinge is van links Matthew van der Ross, Virginè Sammy en David van der Ross.

“Afrikaans is ‘n buitgengewone taal wat ontstaan het toe mense uit al die uithoeke van die aarde hier saamgekom het. Dit is selfs ouer as die land.

In 1611, 40 jaar voor Jan van Riebeeck hom hier kom vestig het, is woorde soos kanna, boegoe en dagga reeds opgeskryf.”

Hy sê in 1626 is daar reeds 26 woorde opgeteken wat vandag nog Afrikaans gebruik word.McKenzie het ook spesifiek gepraat met wit Suid-Afrikaners. “Julle het bygedra tot die sukses van hierdie land.”

Hy het ‘n beroep gedoen op jong wit Suid-Afrikaners om op te hou om na Australië en Amerika te gaan.

“Hierdie is jou land, net soos dit die land is van ‘n kleurlingkind, ‘n swart kind en ‘n Indiër kind.”


Die dag se verrigtinge by die oorlogsmuseum waarheen gaste genooi is, het bestaan uit optredes deur plaaslike en nasionale kunstenaars. Daar was ‘n vol musiekprogram in die amfiteater met optredes van onder andere die Afrikaanse sanger Nàdine, asook Logan Pietersen, Uncle R, Lenthia Jantjies en die Visser Broers, Sasso Vlet en vele meer.

Die skrywer Bibi Slippers lees van haar gedigte voor
Die skrywer Bibi Slippers lees van haar gedigte voor.

In die tent-teater by die Vrouemonument het Martin Schwella se kinderteatertoneelstuk Georgie se Radio kinders vermaak terwyl die Afrikaanse skrywer Bibi Slippers van haar pragtige  gedigte voorgelees het.

Daar was ook ‘n paneelgesprek gelei deur dr. Francois Smith van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se departement Afrikaans, Nederlants, Duits en Frans oor die historiese agtergrond van Afrikaans as taal. Saam met hom in gesprek was Charles Human, dr. Wyno Simes, Mar’c Scholtz, Jimmy Kukari en Anneen Church.

Die dag se bedrywighede is afgesluit met die komiese verhoogstuk Harte Bliksems.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article