Een van die ontvangers van die organe van Deon van der Berg (28) wat Saterdag 16 Mei in ‘n motorongeluk dood is, is ook ‘n jong man van die stad.

Arno Taljaard (25), ‘n oudleerling van die Hoërskool Fichardtpark, ondergaan vandag ‘n nieroorplanting. Dit was nadat Deon se ouers toestemming gegee het dat hul seun se liggaam vir orgaanoorplanting gebruik kan word.

Arno se ma, Elzabé Castelyn van Barkley-Wes, het BloemNuusExpress gebel toe sy die berig oor Deon sien.

Arno Taljaard voor sy nieroorplanting op Dinsdag 19 Mei.
Arno Taljaard voor sy nieroorplanting op Dinsdag 19 Mei. FOTO: Verskaf

“My seun is een van die ontvangers van sy niere,” het sy gesê. “Gister toe ons gehoor het Arno gaan ‘n nier ontvang, was dit die herdenking van sy neef Barry Groenewald se verjaardag. Arno en Barry het verlede jaar albei in Rosepark gelê, toe Barry oorlede is.”

Elzabé sê Arno en sy neef is gebore met dieselfde nierdefek Alport-sindroom. Arno was 5 jaar oud toe die siekte – ‘n genetiese defek wat die niere en soms die gehoor aantas – by hom gediagnoseer is.

Sedert Februarie moes Arno daagliks van 20:00 tot 05:00 peritoneale dialise tuis ondergaan.

Ondanks Arno se siekte en sy gehoorgestremdheid weens die siekte, leef dié jong man ‘n vol lewe. Op skool was hy deel van die Suid-Afrikaanse cheerleading-span wat na Amerika getoer het en hy het in 2019 aan die Hoërskool Fichardtpark matriek geskryf.

Hy werk nou as ‘n vakleerling by SA Truck Bodies, maar sal vir die tyd waarop hy van die operasie herstel, nie kan werk nie.

Elzabé sê hulle is baie dankbaar vir hierdie geleentheid waarop haar seun ‘n nier kon ontvang. “Ons wil graag ons medelye aan Deon se familie oordra.

“Ons harte loop oor van dankbaarheid.”

Die oorplanting vind plaas in die Netcare Universitas-hospitaal in die stad.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article