Versekeringsmoord op niggie: Twee susters kry lewenslange tronkstraf

Die beskuldigdes is van links Justin Tier, Naledi Leburu, en haar suster, Mpho Leburu. Foto: Charné Kemp

Naledi en Mpho Leburu, twee susters van Douglas, is Vrydag 31 Oktober in die hooggereghof in Kimberley tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis weens die “hebsugtige” moord op hul niggie om versekeringsgeld van R80 000 te eis.

Hulle het in eenderse T-hemde met ‘n geblomde motief styf langs mekaar in die beskuldigdebank gesit, uitdrukkingloos en ‘n entjie weg van hul medebeskuldigde, Justin Tier.

Hy is ‘n mindere 25 jaar gevangenisstraf vir moord opgelê omdat hy die enigste een is wat werklike berou getoon en sy weë probeer verander.

Só het regter Cecile Williams in haar uitspraak bevind.

Williams het bevind die slagoffer, Ristelle Stenekamp, wat aan epilepsie gelei het, is soos ‘n lam ter slagting gelei deur mense wat sy vertrou het, mense wat haar op ‘n goedkoop manier van haar toekoms beroof het.

Stenekamp wat bewusteloos was nadat Tier haar gewurg het, is “soos vullis in ʼn vullisdrom” geplaas en in die besproeiingskanaal gegooi waarin sy verdrink het.

LEES OOK: Man beken moord in versekeringsaak; niggie is ‘dronk gemaak’, gewurg

Benewens Stenekamp se seun en tannie wat verpletter is deur die moord, is die susters se gesamentlike ses kinders ook sonder ouersorg gelaat en moet maatskaplike dienste toesien dat hulle goed deur ander familielede versorg word. Tier is die pa van twee van Naledi se kinders.

Die drie is skuldig bevind aan moord, poging tot regsverydeling en bedrog. Al drie is ‘n verdere drie jaar vir poging tot regsverydeling opgelê terwyl Tier vyf jaar vir bedrog, en die susters elk agt jaar vir bedrog opgelê is. Dit word samelopend uitgedien.

Tier kon na die moord nie slaap nie, en het ‘n beroerte gehad. Hy het ook twee keer probeer selfdood pleeg en het uiteindelik teenoor sy niggie gebieg, waarna hulle na die polisie is en hy ʼn bekentenis afgelê het. Hy het sy volle samewerking gegee en sekere uitwysings gedoen. Tier was eerlik oor sy betrokkenheid in sy getuienis in die hof. Hy het volgens die regter werklike berou getoon en daar is ʼn kans dat hy gerehabiliteer kan word.

Die susters wat die opperbrein van die moord was, het nooit getuig nie wat dit moeilik vir die regter gemaak het om te bepaal of hulle berouvol is. Hulle het die geld gebruik om partytjie te hou en klere te koop, maar nie vir meer dringende behoeftes soos kos vir hul kinders nie.

“Die woord boos kom by my op,” het die regter gesê.

‘Versekeringsmoorde kommerwekkend’

Die beplande moord is op 9 Augustus 2020 uitgevoer. Stenekamp is na die susters se ouerhuis genooi en dronk gemaak. Spas Tieties, Stenekamp se tannie wat haar grootgemaak het, het getuig hoe bekommerd sy was oor haar niggie se verdwyning. Twee dae later is die lyk gevind.

Tier het getuig hy het gedink sy is dood nadat hy haar gewurg het. Naledi was hoogswanger, daarom het Mpho hom gehelp om die lyk toe te draai en in ‘n asblik te plaas. Hulle het Denzil Masito, ʼn vriend, gebel om vir Tier en Mpho te help om die lyk na die kanaal te dra.

LEES OOK: Versekeringsmoord op niggie: Twee susters en eertydse kêrel skuldig bevind

Masito is deur regter Williams van vervolging gevrywaar omdat hy reguit en eerlik in die hof getuig het.

Ter strafverswaring het adv. Sue-Anne Weyers-Gericke aangevoer dat die dade voorafbeplan en uit hebsug gepleeg is. Nie een van die beskuldigdes het werklik berou getoon nie, en hul rehabilitasie is daarom twyfelagtig.

Adv. Moetleetsi Mokwera het namens die susters opgetree, en Kingsley Sebolai namens Tier. Hy het aangevoer Tier was ’n stil kind wat as tiener aan dwelms verslaaf geraak het weens verkeerde vriende.

Regter Williams het bevind die toename in versekeringsmoorde is kommerwekkend en moet dringend gestuit word omdat onskuldige mense hul lewe vir geld verloor.

LEES OOK: Moordverhoor ná skietdood: Eksman voer aan vrou se broer het dalk geskiet

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article