KEIMOES – ‘n Verdagte is Woensdag 28 Oktober in hegtenis geneem ná die liggaam van die 44-jarige Christina (Toenas) Beukes Sondag in ‘n vlak graf by Currieskamp naby die Oranjerivier gevind is.
Sy is deur familie as vermis aangemeld toe sy Vrydag nie teruggekeer het huis toe nie, en ná ‘n soektog deur die gemeenskap, lede van die polisie in Keimoes, asook lede van die Upington soek-en-reddingspan en die honde-eenheid, is haar liggaam Sondag omstreeks 13:30 in ‘n vlak graf by Currieskamp – tussen Upington en Keimoes – gevind.
LEES OOK: Liggaam van 44-jarige vermiste ma gevind in vlak graf naby Oranjerivier
Kolonel Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder, sê die volharding van speurders van Keimoes het daartoe gelei dat die 32-jarige verdagte Woensdag in hegtenis geneem is.
Ehlers sê die polisie ondersoek ‘n saak van moord en die omstandighede wat tot haar dood gelei het.
Die distrikskommissaris van die ZF Mgcawu-distrik, generaal-majoor Monica Sebili, het die ondersoekspan vir hul toegewyde pogings wat tot die vinnige inhegtenisneming van die verdagte gelei het, geprys. Sebili sê die polisie bly daartoe verbind om diegene wat vir gewelddadige misdade verantwoordelik is, voor die hof te bring.



