Te danke aan ‘n skare kunskamerade is beplanning van die tweede Van Zylsrus-kunsteweek goed op dreef.
Dit vind van 29 September tot 1 Oktober plaas.
Vanjaar geniet drie kernaspekte aandag: gratis kunsklasse vir kinders in die gemeenskapsaal; betaalde kunsklasse vir volwassenes in die NG kerk-saal; en die letterkunde- en storievertel-aktiwiteite by die El Shaddai-gemeente.
Met hierdie kunsteweek wil Bridge Co-Creators kunstebewustheid in die Noord-Kaap stimuleer deur deelnemers praktiese en doenbare geleenthede te bied om aan hul drome uiting te gee, soos om byvoorbeeld ‘n eerste maal ‘n houtskoolskets te skep.
Dit is boonop ‘n ideale geleentheid vir instellings of individue wat die waarde van die skeppende ekonomie besef om deur borgskappe betrokke te raak.
LEES OOK: Eerste kunsteweek in Van Zylsrus: ‘Opwindend vanaf die eerste oomblik’
Dié is ‘n kunsteweek en nie ‘n kunstefees nie.
Die Van Zylrus-kunsteweek bied tyd vir kunspleging en ‘n verposing vir inspirasie. Die klem val op die wonder van skep, hoewel uitstallers die geleentheid kry om gratis met eie toerusting buite die onderskeie kerksale uit te stal.
Nog ‘n oogmerk is om vir kunstenaars in alle genres ‘n gratis platform te skep. Hier kan hulle vriende maak met ander kunssinniges en kunsliefhebbers uit ander oorde.
Slegs twee van die gebeurtenisse wat gaan plaasvind, is ‘n fotografie- en teken-inspirasiesessie deur ‘n dosent van die Universiteit van die Vrystaat se visuelekunstedepartement; ook gaan ‘n multimedia-aanbieder vanuit Botswana bo-op die duin wat oor die aasvoëlgeoglief uitkyk, ‘n buitelug “groet-die-son”-gebeurtenis lei.
Deel van die suksesvolle eerste kunsteweek wat verlede jaar aangebied is, was die pak en aanpak van die aasvoëlgeoglief, wat deur Site_Specific Collective in samewerking met Bridge Co-Creators in Mei vanjaar voltooi is. Die ontwerp en die pak van dié geoglief het ‘n week voor die 2025-kunsteweek begin. Vanjaar kan die 3,5 km-roete van die geoglief gestap word.
- Vir meer inligting, bel Pieter Pienaar by 083 585 3512.
LEES OOK: Eerste kunsteweek, skep van aasvoël-geoglief by Van Zylsrus maak geskiedenis





