TWYFELHOEKIE | Sulke mense is bitterder as gal en erger as galbitter

Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

Ek was sommer nog ‘n jong seuntjie op die plaas toe Ouma Plaas ons geleer het om nastergal te eet.

Nie almal het dit geken nie, maar sy het daar grootgeword en was so lief daarvoor.

Daardie klein, ronde bessies wat maar so groot soos ‘n ertjie is.

Sy het ons mooi geleer: Hy is aanvanklik groen, later donkerpers, selfs swart wanneer dit ryp word.

Soet, met ‘n suur smaak. ‘n Unieke smaak. Soms sou sy nastergalkonfyt kook.

Maar, het sy ons geleer − en dit is baie belangrik − wanneer daardie vruggie nie ryp is nie, is hy galbitter en giftig. Moenie dit eet nie, dit gee maagpyn en maak jou naar.

Vir haar was dit eenvoudig: Op die regte tyd is dit ryp en gesond en word dit selfs teen siektes gebruik, maar groen is dit bitter en maak dit jou siek.

Ek onthou my vraag aan haar oor wat dit beteken dat ‘n groen nastergal galbitter is. Eie aan haar aard leer sy my toe so mooi.

Ek moet kyk met slagtyd: Alles word geëet, gebruik, iewers aangewend; maar nêrens die gal nie. Nie van die bees nie, nie van die skaap nie, van niks.

Die katte, honde, niemand sal proe aan die gal nie. Dit is te bitter. Die galblaas is bitter vanweë al daardie gal wat dit uit die liggaam haal. Dit het ‘n aaklige smaak.

Toe kyk Ouma Plaas so oor Twyfelhoek se vlaktes en sê: Maar nog bitterder as gal en erger as galbitter is ‘n bitter mens. Hulle word selfs bitterbekke genoem.

Oppas vir bitterbekke, my kind. Hul bitter proe soos gal, en dit is onuithoudbaar.

As ek vandag so op sosiale media lees en party mense hoor praat en mense ontmoet wat so bitter is, dan dink ek aan haar woorde.

Oppas vir bitterbekke, hulle is galbitter.

Toe gee sy vir my ‘n hand vol nastergal-bessies … proe die verskil tussen bitter en soet.

Wees nastergalbessie-soet, wees versigtig vir galbitter mense.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article