TWYFELHOEKIE | Onthou wat jy geleer het en van wie jy dit geleer het

Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

Daar is darem nie iets wat kom by die waarde van dit wat jy geleer het by goeie en sterk ouers nie.

Natuurlik is dit so dat jy die gebrokenheid van ouers so spoedig moontlik moet vergeet, of dit gebruik tot groei, maar as jy geseënd is met goeie en sterk ouers, moet jy altyd en voortdurend teruggaan na wat jy geleer is.

Of dit moeilik en of dit maklik is, ‘n mens moet bly by dit, wat jy by goeie geloofsouers geleer het.

Die jong Timoteus moes dit hoor.

Paulus skryf vir hom hy moet bly by wat hy geleer het, want hy weet van wie hy dit geleer het.

Soms gebeur dit in die lewe dat daar goed gebeur wat maak dat ‘n mens perspektief nodig het, wat maak dat ‘n mens nuut moet kyk en dink – dan moet ‘n mens teruggaan na wat jy onthou jy geleer is.

Ons wil soveel keer in ons lewe die wiel herontwerp, ons wil maak of oplossings baie moeilik is en ons wil dikwels nie die logiese plan en pad sien nie.

Een van die grootste redes daarvoor is omdat ons vergeet wat ons geleer is.

Juis in ‘n wêreld wat vinnig beweeg en daar so baie dinge elke dag om ons gebeur maak dit sin om so ‘n bietjie te gaan sit en te onthou en terug te dink aan wat jy geleer het van hulle wat jou grootgemaak het.

As dit negatief is, gebruik dit. As dit positief is, oordink dit en leef dit uit.

Jy is so bevoorreg as jy kan terugdink aan ‘n ma wat gesê het of ‘n pa wat gesê het… en jy kan mooi daaraan terugdink en daarop dag tot dag bou.

‘n Mens kan leer uit foute, jou eie en ander, maar ‘n mens kan ook leer van die mooi en die stabiele, van die wysheid en die ervaring.

Onthou wat jy geleer het en van wie…

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article