Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

Twee praktiese stories raak my diep hierdie week. Albei het met water te doen, maar in konteks so ver van mekaar.

Aan die een kant word ons oorweldig met al die vloede in die Krugerwildtuin en noorde van die land, terwyl die suidelike dele van die land in droogte na reën smag.

Dit wys maar net hoe beperk ons as mens is – daar is eenvoudig dinge bo ons vermoë en dinge waaraan ons niks kan doen nie.

Die eerste voorbeeld wat my hart raak, is ‘n video van ‘n olifant-mamma wat haar jong kalfie deur die rivier begelei. Sterk stroom of nie, haar kalf kan seker wees dat sy agter hom is. Dit is kosbaar treffend.

Die tweede voorbeeld is ‘n woonbuurt in die midde van die stad wat – weens baie redes, maar kom ons som dit op as swak bestuur – dae lank sonder water is.

Wat my hart breek, is ‘n jong seuntjie wat huil omdat hy moet vuil skool toe gaan.

Vergeet al die ander ongemaklikhede wat waterloosheid vir hulle beteken rondom toilette, kosmaak, dors en wat nog alles. Vir hom is dit ‘n gewoon praktiese probleem. Hy wil nie vuil skool toe gaan nie. Hy vra so mooi dat ons hom help, iemand hom net help. Hy wil skoon skool toe gaan.

Twee uiterse uiteenlopende voorbeelde – aan die een kant ‘n ma wat haar hele lyf op die spel plaas om haar kind deur ‘n watermassa te kry, aan die ander kant ‘n ma wat net smeek vir water in haar kraan om haar kind skoon by die skool te kry.

Hierdie uiteenlopende water-uitdagings herinner my net weer aan hoe uniek verskillende kontekste en uitdagings is.

Laat ons tog maar groei in ons begrip vir mekaar.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article