Twee aflosvlieëniers het met “bomenslike krag en kalmte te midde van histerie” 'n Flydubai-passasiersvliegtuig weer op koers gekry.
Twee aflosvlieëniers het met “bomenslike krag en kalmte te midde van histerie” ‘n Flydubai-passasiersvliegtuig weer op koers gekry. FOTO: Nicholas Susilo/Unsplash

Suid-Afrikaner glo onder helde wat Flydubai- vliegramp voorkom

Twee aflosvlieëniers het met “bomenslike krag en kalmte te midde van histerie” 'n Flydubai-passasiersvliegtuig weer op koers gekry.
Twee aflosvlieëniers het met “bomenslike krag en kalmte te midde van histerie” ‘n Flydubai-passasiersvliegtuig weer op koers gekry. FOTO: Nicholas Susilo/Unsplash

Betroubare bronne het Woensdag aan NoordkaapBulletin gesê een van die twee aflosvlieëniers wat met “bomenslike krag en kalmte te midde van histerie” ‘n Flydubai-passasiersvliegtuig weer op koers gekry het nadat dit byna sou neerstort, is ‘n Suid-Afrikaner.

Volgens ʼn ander bron is daar berigte dat die ander aflosvlieënier moontlik van Nieu-Seeland afkomstig is.

Volgens die BBC, Reuters en die Daily Mail het Flydubai-vlug FZ1073 vanaf Dubai na Tel Aviv in ‘n lewensgevaarlike situasie beland toe ‘n mede-vlieënier glo die ander vlieënier met ‘n mes aangeval het.

Vlugdata toon dat die Boeing 737 MAX skielik uiterste hoogte verloor het; die vliegtuig het binne ‘n paar minute van sowat 34 000 voet na sowat 15 000 voet gedaal.

LEES OOK: Passenger on rerouted flydubai flight says pilot tried to crash plane

Bemanning en passasiers gryp in toe chaos losbreek

Noodseine vir ‘n algemene noodgeval, asook as onwettige inmenging of kaping, is uitgestuur. Tydens die chaos en paniek het bemanning en passasiers, insluitend die aflosvlieëniers, glo die kajuit bestorm. Hulle het die aanvaller oorweldig, vasgebind en die vliegtuig weer onder beheer gekry.

Die vliegtuig is na die Tabuk-lughawe in Saoedi-Arabië herlei, waar dit veilig geland het. Die aanvaller is deur Saoedi-owerhede in hegtenis geneem. Die Israeliese eerste minister, Benjamin Netanyahu, het die optrede van die passasiers en bemanning geprys en gesê hulle het “baie lewens gered en ‘n groot ramp verhoed”, terwyl amptenare dit beskryf het as die fnuiking van ‘n moontlike “Israeliese 9/11”.

‘Ek het die aanvaller in ‘n kopklem gegryp, buitentoe gesleep’

Luidens die BBC-berig het ‘n passasier, ene Yaniv, aan die Israeliese eerste minister beskryf hoe hulle die aanvaller oorval het: “Die vlieënier wat gesteek is, was baie naby aan die deur, dit was moeilik om dit oop te maak. Voordat die vlieënier inmekaargesak het, kon hy die deur oopmaak. Toe ek en ‘n ander ou ingaan, het ek die aanvaller in ‘n kopklem gegryp, en hom heel eerste buitentoe gesleep.”

Hy sê die aanvaller het probeer om die instrumente te vernietig. Intussen het ander passasiers die vermeende aanvaller vasgehou.

Yaniv sê hy het die kontroles van die vliegtuig getrek, want hy kyk gereeld na die TV-program Air Crash Investigation. “Die vliegtuig het begin gelyk vlieg; toe kom die aflosvlieënier en neem beheer oor,” het Yaniv aan Netanyahu verduidelik luidens die BBC berig.

‘Absolute wonderwerk en buitengewone heldedaad,’ meen kenner

Cobus Toerien, ‘n lugvaartveiligheids- en ongeluksanalise-deskundige wat op die Suid-Afrikaanse Accident Analysis Prevention Committee van die Aviation Professional Association dien en amper 50 jaar se vliegondervinding het waarvan 14 jaar by die Suid-Afrikaanse Lugdiens, sê die twee aflosvlieëniers moet as helde beskou word.

“Hulle het bomenslike krag en vermoëns ingespan om ʼn vliegtuig wat teen ‘n spoed in ‘n duik-slag was, onder beheer te kry.

“Ons verneem op lugvaartgroepe dit is ʼn Suid-Afrikaner en Nieu-Seelander wat beheer geneem het en die vliegtuig geland het.”

“Dit moet ʼn verskriklike ding wees vir die vlieëniers en die passasiers. Dink net aan die een vliegtuig wat op 9/11 in Amerika neergestort het nadat die passasiers die kapers, wat die vlieëniers van buite af buite aksie gestel het, oorrompel het.

“Vlieëniers word goed opgelei, maar ʼn vliegtuigkaping is ʼn rare maar traumatiese gebeurtenis.

“Die vliegtuig was volgens berigte in ‘n steil duikvlug, met ‘n astronomiese dalingstempo en ‘n spoed van tot 600 knope wat glo fisieke skade meegebring het. Die situasie veroorsaak erge fisieke en geestelike uitdagings; dink net aan die bloed in die kajuit. Die vlieëniers wat in daardie oomblik snel na die kajuit probeer beweeg en die stuurstang oorneem, veg teen uiterste swaartekrag- en G-kragte. Solank die vliegtuig hoog was en beide enjins krag gehad het, was dit makliker om te vermag.

“Die vliegtuig se stertvin was beskadig, wat dit moeilik beheerbaar maak.  Die vin bied rigtingbeheer, veral teen hoë spoed. Om die vliegtuig onder dié omstandighede uit die duikvlug te lig en die spoed veilig af te kry, vereis uitsonderlike vaardigheid.

“Die aflosvlieëniers het waarskynlik gelukkig naby aan die kajuit gesit toe die voorval onstaan het en kon vinnig nader beweeg. Gewoonlik weet die bemanning hoe om die deur oop te maak. Daar is ʼn byl agter die kajuit om die deur te probeer oopbreek. In dié uiterste traumatiese omstandighede het hulle koelkop gebly.”

Toerien sê die feit dat die aflosvlieëniers en bemanning die duikvlug kon regstel, die rigting en spoed onder die chaotiese toestand stabiliseer en die vliegtuig veilig op die grond kon kry, is niks minder nie as “ ‘n absolute wonderwerk en ‘n buitengewone heldedaad.”

Boek verken menslike gedrag binne lugvaart-konteks

Johan Lottering, wat sedert 1979 in die lugvaartbedryf as joernalis, kommersiële vlieënier en instrukteur werk, het pas die boek Good Crew Bad Crew gepubliseer. Dit handel oor waarom goeie mense soms slegte besluite neem. Sy boek is ‘n interdissiplinêre verkenning van menslike gedrag, besluitneming en leierskap onder druk.

Hy skryf ondanks vooruitgang in die sosiale wetenskappe, en die gebruik van keuring, onderhoude en psigometriese toetsing vir bemanningslede soos vlieëniers, kan individue wat inherent onstabiel is, nie betroubaar geïdentifiseer of uitgesif word nie.

Sy eerste hoofstuk handel oor massamoord en selfdoodvlugte. Hy skryf die versterking van kajuitdeure ná die terroriste-aanvalle van 11 September 2001 was ‘n maatreël ingestel om eksterne inmenging te voorkom, maar in sekere gevalle het dié interne isolering  gekeer dat ander bemanningslede kan ingryp. Sodoende is ander onbedoelde gebeure meegebring soos in die voorvalle van die LAM Mozambique Airlines-vlug en dié van German Wings waarin die vlieënier, nie ‘n eksterne aanvaller nie, die rampe veroorsaak het.

Die eersgenoemde vlug was in November 2013 op pad van Maputo na Luanda toe die kaptein, Hermínio dos Santos Fernandes, die vliegtuig opsetlik laat neerstort het in die Bwabwata Nasionale Park. Al 33 mense aan boord, 27 passasiers en 6 bemanning, is dood. Terwyl die medevlieënier die kajuit verlaat het om badkamer toe te gaan, het die kaptein die versterkte kajuitdeur van binne gesluit. Hy het die outovlieënier-instellings verander om die vliegtuig vinnig na grondvlak te laat daal. Die ander vlieënier kon nie die deur oopbreek nie.

Die ander voorval was die German Wings-vlug op 24 Maart 2015 op ‘n vlug van Barcelona na Düsseldorf toe die mede-vlieënier, Andreas Lubitz, die Airbus A320 opsetlik in die Franse Alpe laat vasvlieg het. Al 150 mense aan boord is dood. Net soos in die Mosambiekse geval, het die ander vlieënier die kajuit kortstondig verlaat. Lubitz het die deur van binne gesluit met die beveiligingsmeganisme wat ná 9/11 ingestel is. Dit het verhoed dat die kaptein die noodkode kon gebruik om die deur oop te sluit, omdat iemand binne die kajuit dit elektronies kon blokkeer. Die kaptein kon ondanks probeerslae met ‘n byl of stang nie deur die versterkte deur breek nie.

Die PDF-boek kos R245. Stuur bestellings met die onderwerp GOOD CREW aan sales@iaamag.co.za. Lottering kan by 2782-550-3665 of info@iaamag.co.za gekontak word.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article