Kruger-toeriste se moordenaars vlug vermoedelik met bakkie na Mosambiek

crime
Die moord op twee toeriste in die Krugerwildtuin het skokgolwe deur die land gestuur.

Kruger-toeriste se moordenaars vlug vermoedelik met bakkie na Mosambiek


LIMPOPO – Nuwe inligting in die ondersoek na die moord op twee toeriste in die Krugerwildtuin dui daarop dat hul vermeende moordenaars vermoedelik met die egpaar se bakkie na Mosambiek gevlug het.

Die gevolgtrekking is gemaak nadat tegnologie in die park bevestig het dat die egpaar se voertuig, volgens polisie glo ‘n groen Ford Ranger-dubbelkajuitbakkie, nie deur enige van die park se amptelike hekke uit is nie. Veldwagters het wielspore gevind wat daarop dui dat die bakkie moontlik deur ‘n heining in Mosambiek by die park uit is.

Crooks Corner, waar die oorledenes se liggame Vrydag naby die rivier met steekwonde gevind is, is geleë in die verre noordelike Pafuri-gebied van die Krugerwildtuin, waar die Levubu en Limpopo riviere ontmoet, en wat grens aan Zimbabwe en Mosambiek.

Die geografiese ligging verwys na die berugte buitepos wat in die laat 19de en vroeë 20ste eeue glo deur misdadigers en ivoorstropers gebruik is om maklik oor internasionale grense te glip om owerhede te ontduik.

Die vermoorde egpaar, wat intussen deur die Sondagkoerant, Rapport, as Ernst (71) en Dina (73) Marais – twee natuurliefhebbers en ywerige reisigers van Mosselbaai geïdentifiseer is, is vroeër as vermis aangemeld nadat hulle die Woensdagoggend laas deur mede-kampers by die Pafuri-piekniekterrein gesien is en nie weer na hul kampplek teruggekeer het nie. Hulle was sedert verlede Sondag (17 Mei) in die park.

LEES OOK: Double murder investigation launched into Kruger tourist deaths

Reynold Thakhuli, mediabestuurder van Sanparke het Sondag (24 Mei) by Skukuza aan media gesê dat die voorval Sanparke genoop het om sekuriteit in afgeleë dele van die park te heroorweeg ten spyte van die bestaande hoëklas-veiligheidstegnologie waaroor die park reeds beskik.

Hy het gesê dat Sanparke later ‘n verklaring sal uitreik wat maatreëls uiteensit wat daarop gemik is om veiligheid regoor die park te verbeter.

Hy het weer beklemtoon dat daar in die park se 100-jaar-bestaan nog nooit ‘n insident van dié aard aangemeld is nie.

Volgens Thakhuli was Sanparke se uitvoerende beamptes en polisieverteenwoordigers Saterdag in gesprek met die slagoffers se familie en het hul volgehoue ondersteuning deur die proses beloof.

“Ons is vertel dat die paartjie mense is wat regtig lief was vir die Kruger, en dit is mense wat nie sommer onnodig in gebiede wat gevaarlik is, sal uitgaan nie,” het hy gesê.

Die familie word Maandag by die park verwag, waar Sanparke met reëlings sal help, insluitend die vervoer van die oorledenes se oorskot.

“Ons gaan die familie regtig deur die hele proses ondersteun,” het Thakhuli gesê.

Intussen het die minister van bosbou, visserye en omgewingsake, Willie Aucamp, gesê hy het met Sanparke se bestuur geskakel om voortgesette samewerking met die ondersoek wat deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens uitgevoer word, te verseker.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article