‘n Hewige storm wat deur sommige as ‘n tornado beskryf is, het binne ongeveer ‘n halfuur talle boomreuse in Kathu in die Noord-Kaap ontwortel, strukture beskadig en algemene verwoesting gesaai.
Omheinings, middelmannetjies en padtekens is deur die ontwortelde bome beskadig, terwyl die hewige wind en reën die padelbaan by die Kalahari Country Club beskadig het. Sover bekend, het net een huis groot skade opgedoen. Geen noodlottige beserings is tot dusver aangemeld nie.
Dean Espach van Rhino Security en Rhino Response Team vertel dat die storm Maandag 4 Mei omstreeks 18:51 begin het, en omtrent 30 minute geduur het.




Spanne, bestaande uit lede van Rhino Response Team, asook Gamagara se vuur-en-redding, verkeersafdeling, en munisipale parke, het Maandagaand kort ná die storm ingespring om bome uit paaie en opritte te verwyder, verkeer te reguleer, en te kyk waar hulle die publiek van hulp kan wees.
Dinsdag hulle steeds besig met opruimingswerk. Laaigrawe, onder meer deur Oryx Plant Hire beskikbaar gestel, is in dié proses gebruik.
Grootskaalse oorstromings
Swaar reënneerslae het sedert verlede week tot grootskaalse oorstromings oor groot dele van die Noord-Kaap gelei.
Van wyd en syd oor die hele provinsie heen is inligting ontvang van stroompies wat in tierende riviere verander het; van oorspoelde strate; dorre panne wat meteens ‘n horison van water is; brûe wat ingekalwe het; en van outydse duime en duime reën wat uit reënmeters gegooi word.
Nege Transnet-werkers wat Donderdag 30 April langs die spoorlyn tussen Kathu en Postmasburg gewerk het, met hul twee voertuie, is deur vloedwater vasgekeer.
LEES OOK: Cold night ordeal ends as rescue teams airlift workers from flooded vehicles
Op 30 April is owerhede ingelig dat twee volwasse mans, wat probeer het om ‘n oorspoelde brug in die Metswetsaneng-nedersetting oor te steek, vermis word. ‘n Multi-dissiplinêre span het die liggaam van een van die mans op Sondag 3 Mei gevind en op Maandag die tweede liggaam.
‘Shantie vol water’
Ná etlike reënfoto’s op 30 April op NoordkaapBulletin se Facebook-blad geplaas is, het ook kommentaar ingestroom.
“By ons in Greenpoint stoot die water van onder op sit met ‘n shantie vol water het al klomp liter uitgegooi,” skryf Govan de Wes van Kimberley. Gwendoline Speak, ook van Greenpoint, skryf: “Ek is nie ondankbaar maar dit kan nou maar stop. Greenpoint is ‘n nagmerrie”.
Johannes Kok skryf: “Scmidtsdrift raining continiously from Wednesday night still raining temperatures very low I’m stil in bed at one o’clock for the first time this month. Bye bye April month.”
Magdeline Namukolo van Kimberley het laat weet: “Dis lelik hier voor my jard in Club 2000 dis reënwater plus sewage dis erg ons kani uitgaan nie.”



Andries Servon het laat weet dit reën onophoudend in Douglas, terwyl Delise Barnard skryf van deurdringende reën in Southridge, Kimberley.
Jowina Smith van Upington skryf dit het reeds 95mm gereën, en dit reën nog steeds. “Dis nat, maar ons is geseën met genadewater van bo”. Esme du Toit laat weet: “Op Upington is ons deurnat, tot opi been!”
Wimpie Nel van die Raaswater-omgewing so 20km buite Upington skryf hy het 60mm uit sy reënmeter gegooi, en dit reën steeds.
Bevestiging van reën is ook vanaf Hopetown, Kathu, Kuruman, Kakamas, Prieska, De Aar, Petrusburg, Boshof, Luckhoff, Groblershoop, Keimoes, Olifantshoek, Christiana, Ritchie, Jacobsdal, Postmasburg, Griekwastad en Campbell ontvang.
Geoglief-fees gekanselleer
Weens die Kurumanrivier wat in vloed is, en moeilik begaanbare paaie in groot dele van die Van Zylsrus-omgewing, is die Geoglief-fees wat op Saterdag sou plaasvind, gekanselleer.
LEES OOK: Van Zylsrus vier fees ná aasvoëlgeoglief met 38 000 klippe voltooi is
Pieter Pienaar, organiseerder, laat weet: “Die reën het geval. ‘n Rivier het Van Zylsrus oorstroom. Ons planne het saam met die water weggedryf… Die seëninge van bo het ingegryp. As organiseerders was ons bemoedig deur die bereidwilligheid van die gemeenskap en vreemdelinge wat wou deelneem. Nou het ons ‘n bloudruk, wat die beplanning van die nuwe Geoglief-fees makliker kan maak. Ons sal wag vir die water om te sak en vir die lewe om na normaal terug te keer.”






You must be logged in to post a comment.