R1,7 miljoen gebuit: PA-beskuldigde op parool vir vorige gewapende roof

Shadrack Mocholo in die hof. FOTO: Charné Kemp

Die ondersoekbeampte in die saak waarin ’n prominente PA-leier aangekla word van betrokkenheid by ‘n gewapende roof in Januarie by ʼn Shopritewinkel in Kimberley waar R1,7 miljoen gebuit is, het nog nie die “tyd of ʼn polisievoertuig” gehad om verdere ondersoek te doen of om die beskuldigde se paroolbeampte te bel nie.

Shadrack Mocholo (44), ʼn adjunkvoorsitter van die PA in die Francis Baard-streek, is die enigste van vier vermeende rowers wat aangekeer is. Hy het verskeie vorige veroordelings en is op parool vrygelaat nadat hy in 2006 tot 29 jaar gevangenisstraf vir gewapende roof gevonnis is. Mocholo sê sy alibi bewys dat hy nie op 18 Januarie vanjaar net na 06:00 naby die misdaadtoneel in die stad of betrokke by die misdaad was nie.

Die PA het Mocholo intussen tydelik as hul adjunkvoorsitter geskors. In ʼn brief wat aan partylede gestuur is, bevestig die Frances Baard-uitvoerende komitee dat Mocholo tydelik geskors is.

Kluissleutel was ‘byderhand’

Ao. Patrick Dibebe, ondersoekbeampte, het verlede week in Mocholo se borgtogaansoek in die plaaslike landdroshof getuig. Volgens hom het winkelpersoneel op die betrokke oggend die garagedeur van die winkel in Curreystraat oopgemaak toe hulle deur vier mans met twee vuurwapens en een mes oorval en in die winkel gedwing is. Die mans het gevra waar die kluis met die geld is en die personeel is gedwing om op die grond te sit.

Die sleutel van die kluis was “byderhand” en die mans het die kluis oopgemaak en die geld daarbinne gevat en in ʼn plastieksak geplaas. Tydens die voorval is een personeellid in die hand geskiet.

Volgens Dibebe was dit maklik vir die rowers om die geld te vind en te vlug. Hy het getuig een personeellid het ʼn week voor die voorval die sleutel teen regulasies op ʼn ander plek geplaas, en ook nie die geld beveilig soos protokol vereis deur dit in die afstortkluis te plaas nie. Die betrokke personeellid het ook ʼn leuenverklikkertoets gedruip.

LEES OOK: Drie swaar gevonnis vir moord op Noord-Kaapse sakevrou

Dibebe het in sy ondersoek ʼn video van die voorval bekom, maar die rowers se gesigte is nie duidelik uitkenbaar nie. Hy voer aan Mocholo is deur die misdaadintelligensie-afdeling op die video en deur ʼn uitkenningsparade as ʼn betrokkene geïdentifiseer. Hy wag op die uitslag van die vingerafdrukke en raak-DNS monsters wat op die toneel gevind is. Die projektiel op die toneel moet ook ondersoek word. Selfoongebruikstate van betrokkenes is aangevra en nog verklarings moet afgeneem word.

Volgens Dibebe het Mocholo sedert 2000 etlike vorige veroordelings van onder meer huisbraak (drie veroordelings) ontvoering en rooftogte. Hy dien steeds ʼn vonnis van 29 jaar uit, hoewel hy op parool vrygelaat is. Dibebe het nog nie “tyd gehad” om Mocholo se paroolbeampte te bel, of verklarings van sy bure af te neem nie, “weens ʼn gebrek aan polisievoertuie wat almal onklaar in die staatsgarage staan.”

Die polisie het op Mocholo se selfoon beslag gelê.

Informant ‘twyfelagtig’

Adv. Marcus Mafaro, namens Mocholo, voer aan sy kliënt was die betrokke oggend tuis. Werksmense het gekom om ʼn deur aan een van die huise wat hy uitverhuur, te verander. Sy huurders en ander bure kan sy alibi bevestig. Hy betwyfel dat hy herkenbaar is in die video van die rooftog. Boonop is hy deur ʼn informant, wat deur die polisie betaal word, op twyfelagtige wyse uitgewys. Hy het ook sy bedenking oor die “onreëlmatige” uitkenningsparade waarin die deelnemers gevra is om papiere voor hul gesigte te hou en te praat sodat die getuies na die stemme kon luister. Mafaro voer aan die uitkenningspaprade was onreëlmatig.

Geen van die rowers op die video is herkenbaar nie. Die informant wat Mocholo op die video uitgeken het, is twyfelagtig omdat hy vir inligting betaal word. Mochole het ʼn waterdigte alibi. Boonop kon Dibebe, ondanks Mocholo se misdaadgeskiedenis, sedert die voorval nie daarin slaag om Mocholo se vingerafdrukke (wat op die polisiestelsel is) te vergelyk met dit wat op die toneel gevind is nie.

Mocholo het uitsonderlike en buitengewone omstandighede getoon wat sy vrylating regverdig, al dit ʼn ernstige bylae-6 misdryf, het Mafaro aangevoer.

Hy het nog nooit sy paroolvoorwaardes oortree nie, en is deur die departement van korrektiewe dienste van ʼn hoë risiko na ʼn lae risiko oortreder afgradeer.

Landdros Natasha Bedford het borgtog van R2 000 toegestaan en die saak tot 5 Mei uitgestel.

Kago Barnett het aangekla.

LEES OOK: Shocking human rights violations found at Northern Cape Mental Health Hospital

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article