‘n Hele paar jaar gelede het hul dorp met watervoorsiening gesukkel. In daardie tyd het haar man vir ‘n spesifieke week ‘n konferensie in Bloemfontein bygewoon.
Teen die Vrydag was sy moedeloos met die waterkrisis. Sy het haar man gebel om te hoor of hulle kon deurkom Bloemfontein toe en die naweek saam met hom daar deurbring. Hy het toestemming gekry dat sy gesin by hom in dieselfde rondawel kon oorbly.
Sy het Bloemfontein nie geken nie, maar geweet waar om wegneemetes te kry voordat hulle na haar man toe ry. Hy het verduidelik dat dit maklik sou wees om by hom uit te kom.
“Draai in daardie straat regs en hou net reguit aan,” het hy beduie.
“Ek kan nou nie die straatnaam onthou nie, maar dit is die naam van ‘n bekende persoon,” het hy afgesluit.
Sy was nie voorbereid op die studentelewe op ‘n Vrydagaand nie. Dit het hulle langer geneem om wegneemetes te kry as wat sy verwag het. Haar senuwees het begin uitrafel.
Nadat hulle die etes gekry het, het sy in Nelson Mandela-rylaan regs gedraai. Toe sy by Paul Krugerstraat uitkom, het sy daarin regs gedraai.
Sy het reguit aangery, maar kon nie die pad na haar man toe kry nie. Sy het verdwaal en weer verdwaal.
Uit moedeloosheid het sy gery in die rigting waaruit hulle gekom het. Dit was al heelwat later as verwag toe hulle by haar man opdaag. Hy was moeilik van bekommernis.
“Ek het verdwaal,” het sy gesê.
Sy het aan hom verduidelik hoe dit gebeur het dat sy verdwaal het. Hy het haar baie verbaas aangekyk.
“So … tussen Nelson Mandela en Paul Kruger − hoe het jy besluit wie die bekende persoon is?” wou hy weet.




