Kla, maar kla op die regte plek.
Kla op die regte plek om ‘n verskil te maak. FOTO: Anastasiya Badun / Unsplash

Ons kla te veel. Terselfdertyd kla ons te min.

Ons het eintlik baie om oor te kla. Ons kan oor infrastruktuur kla. Die prys van noodsaaklikhede op winkelrakke. Dienslewering. Slaggate. Klimaatsverandering. Die onregverdigheid van die lewe op feitlik alle gebiede.

Terselfdertyd het ons eintlik nie baie om oor te kla nie. Baie mense het in ‘n mindere of meerdere mate ‘n inkomste. Kos om te eet. ‘n Dak oor hul kop. Ledemate om mee oor die weg te kom. Vriende en familie wat omgee.

Ons kla graag teenoor mekaar. Veral teenoor mense wat ons sieninge deel.

Ons borduur voort op wat verkeerd is. Fout is. Onregverdig is. Onaanvaarbaar is.

Ons raak soms driftig en meegevoer terwyl ons emosies die leisels oorneem.

Die probleem is dalk nie soseer die feit dat ons kla nie. Die probleem is dalk dat ons nie by die regte mense of instellings kla nie. Ons kan om braaivleisvure voortborduur oor wat verkeerd is en ons frustreer, maar diegene wat luister of aan die gesprekke deelneem, kan selde iets hieraan doen.

Dalk is dit tyd dat ons oor die regte dinge by die regte mense kla.

Hoe gaan ons weet wat die regte dinge is om oor te kla? Hieroor gaan ons waarskynlik verskil en dae lank kan redeneer.

Die punt is: As ons regtig wil hê dinge moet verbeter, het dit tyd geword dat ons by die regte plekke of mense kla.

Ons kan redeneer dat daar geen sin in gaan wees nie, want niemand gaan in elk geval iets daaraan doen nie.

Dit kan so wees, maar as ons nie saamstaan en oor die regte dinge by die regte mense kla nie, is daar geen kans op verbetering nie.

Kom ons probeer oor die regte dinge by die regte mense kla. Anders bly dit net by kla.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article