Ek aanvaar die meeste rekenmeesters en mense in ander professionele beroepe stoei met dieselfde soort uitdaging: kliënte wat sukkel om te verstaan hoe dinge aan ons kant werk.
Baie kliënte verstaan nie die konsep dat professionele beroepe wat ‘n diens lewer in terme van tyd werk nie.
Aan die kliënt se kant klink dit regverdig om iets baie dringend te versoek − soos ‘n dokument wat aangestuur moet word, of iets wat bereken moet word.
Hul redenasie is dat dit net ‘n paar minute van jou tyd gaan neem.
Daar is twee uitdagings hieraan verbonde.
Die een is dat jy moet staak waarmee jy besig is en later weer die draad moet optel om verder te werk.
Dit beteken dat dit dus baie meer as net ‘n paar minute van jou tyd neem.
Die ander uitdaging is dat daar nie net een kliënt is wat baie dringende versoeke rig nie. Daar is verskeie.
Dit beteken dat ‘n groot deel van jou dag daaruit bestaan om mense te probeer help wat dinge tot op die laaste nippertjie gelos het.
Dit is ook gewoonlik die mees veeleisende kliënt wat ‘n probleem met jou gelde het.
Mense in mediese en ander professionele beroepe kla dat pasiënte en kliënte van beter weet.
Hulle het hul eie mening oor hoe dinge werk en watter resultate verwag kan word.
In baie gevalle is dit iets wat hulle op die internet raakgelees het. In ander gevalle is dit vriende en familie wat vrylik raad uitdeel − al staan hulle glad nie in dieselfde beroep nie.
Die meeste kliënte het darem ‘n goeie begrip van hoe dinge werk. Hulle verstaan dat hulle nie die enigste kliënt is nie.
Hulle verstaan die konsep van tyd. Van ondervinding. Van kennis. Van waardetoevoeging.
‘n Groot dankie aan pasiënte en kliënte wat die bogenoemde verstaan en dit respekteer − julle is kosbaar.


