Noord-Kapenaars, en veral inwoners van die Kimberley-omgewing, word deur die polisie gewaarsku om uiters versigtig te wees wanneer aankope deur sosialemediaplatforms soos Facebook Marketplace gedoen word.
Verskeie klagtes is die afgelope deur die polisie ontvang wat tot die registrasie van bedrogsake gelei het, sê kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder.
Dié klagtes behels die advertering van veral meubels op onder meer Facebook. Hiertydens word slagoffers oortuig om depositos vir meubels wat adverteer word, te betaal. Sodra die deposito betaal is en die koper reëlings wil tref vir die afhaal van die meubels, kom hulle agter dat die afhaal-adres vals is.
Voornemende kopers van items op aanlynplatforms word ten sterktste aanbeveel om die egtheid en bestaan van items en ‘n verkoper vas te stel voordat enige betaling gemaak word.
Enige persoon met meer inligting oor hierdie bedrogskema, of wie ook ‘n slagoffer was, word gevra om vir speursers. Tapsey Matebesi by 072 781 9152 te bel.
Bedrieërs doen hulle voor as polisiebeamptes
Inwoners van die Namakwa-distrik word gewaarsku teen ‘n bedrogskema wat in die gebied voorkom. Hiertydens bedrieg persone wat hulself as polisiebeamptes voordoen, inwoners.
Kapt. Ivan Magerman, polisiewoordvoerder, beklemtoon die volgende:
- Geen lid van die polisie sal geld van ‘n lid van die publiek vra nie, of vra dat geld in ‘n bankrekening betaal moet word nie.
- Wees waaksaam met aanlyntransakies en wanneer mense wat jy nie ken nie, jou bel en sulke inligting versoek.
- Moenie jou ID-nommer en ander persoonlike inligting aan onbekendes gee nie.
- Moenie betalings maak in rekeninge waarvan onbekendes die besonderhede aan jou verskaf nie.
Die polisie versoek inwoners wie ‘n slagoffer van sulke bedrogskemas was, om dit by ‘n naaste polisiekantoor aan te meld.
Meld enige verdagte optredes aan op die MySAPS App of skakel die polisie se Stop-Misdaadnommer 08600 10111.





