DURBAN – Die polisie moet ingevolge ʼn bestraffende kostebevel ‘n boer van Kwazulu-Natal sowat R2 miljoen met rente in skadevergoeding betaal weens die polisie se nalatige optrede tydens ʼn opspraakwekkende gewelddadige voorval in 2015.

Regter M.B.S. Masipa het in die hooggeregshof in Durban in sy uitspraak op 16 September bevind gemeenskapslede het ernstige skade veroorsaak te midde van die polisie se versuim om op te tree.
Tydens die voorval op 19 Mei 2015 op die plaas Kroonvrug van Arnold Fourie Raath, is sy macadamia- en pynappelboorde geplunder, masjinerie aan die brand gesteek en sowat 80 tot 90 stuks waardevolle wild vrekgemaak.

Die regter het bevind die polisie het onregmatig en nalatig opgetree deur nie redelike stappe te doen om die vernietiging op Raath se plaas te voorkom nie.

Die voorval spruit uit die vrekte van gemeenskapslede se beeste wat op die plaas verdwaal en/of dood aangetref is. Die gemeenskap het aangeneem Raath het die beeste vergiftig ondanks latere laboratoriumtoetse wat die teendeel bewys het.

Ondanks die polisie se voorneme om die karkasse te begrawe het hulle aan die gemeenskap se besware toegegee en dit nie gedoen nie. Die gemeenskap het daarop aangedring dat die LUR vir landbou en landelike ontwikkeling en media dit die volgende dag moet besigtig. Twee dae later het lede van die Mdletshe-gemeenskap op Raath se plaas naby Hluhluwe toegesak.

Op die oggend van die aanval het Raath verskeie kere vir kaptein Jerome Ntuli, die bevelvoerder van Hluhluwe gebel en gewaarsku oor die beplande betoging. Hy het Ntuli gesmeek om te keer dat mense die plaas binnekom, maar sy versoeke is afgewys. Conrad Botha, nog ʼn boer, het ook die polisie verwittig. Die polisie het op die dag ander boere weggewys wat Raath te hulp wou snel.
Lucky Mngomezulu, ‘n werker op die plaas, het in sy getuienis beskryf hoe die plaas binnegeval, brand gestig en gewasse verwoes is. Daarna het mense die wild in die kamp vasgekeer en met pangas, messe en knopkieries vrekgemaak.

Raath het gesien hoe groepe mense van die plek waar die dooie beeste gelê het na die wildkamp beweeg, hoe die Caterpillar-masjien aan die brand gesteek en die pynappelplantasies geplunder is.
Videobewyse het getoon hoe Cyril Xaba, destyds LUR vir landbou en landelike ontwikkeling en deesdae Durban se burgemeester, lt.genl. Khombinkosi Jula (wat die polisie in 2021 verlaat het na klagtes oor sy gedrag as polisiekommissaris in die Wes-Kaap) en ene brig. Mbatha die skare op die plaas toegespreek het. Ondanks hul rang en gesag, het hulle nie verseker die nodige veiligheidsmaatreëls is in plek om die voorspelbare geweld te voorkom nie. Die polisievoertuie en -beamptes was sigbaar maar passief.

Kapt. Fakude van die Openbare Orde Polisie-afdeling by Richardsbaai het getuig dat hy omstreeks 10:30 op die toneel met ‘n kontingent openbare orde-lede en voertuie, insluitende ‘n Nyala-voertuig aangekom het. Teen daardie tyd was die meeste skade egter reeds aangerig.
Regter Masipa het Ntuli se getuienis as ongeloofwaardig beskou. Ntuli het ontken dat hy die slagting gesien het, al was hy naby geposisioneer vanwaar die noordoostelike en suidoostelike hoeke sigbaar was.

Die hof het bevind dis ondenkbaar dat ‘n groot groep mense ongesiens of ongehoor vir meer as ‘n uur lank wild gejag en afgeslag het, veral omdat Ntuli vooraf kennis gehad het van die vergadering, beplande optrede en woede van die gemeenskap.

Redelike polisiereaksie sou vroeg genoeg voldoende versterkings en die ontplooiing van oproerbeheerhulpbronne verseker het, insluitend proaktiewe maatreëls deur die openbare orde-polisiëringseenheid om onwettige toegang tot private grond te weier. Wanneer individue se lewens en eiendom bedreig word en die polisie vooraf gewaarsku word en teenwoordig is, ondermyn hulle die Grondwet as hulle nie optree nie. Dit is nalatig om ‘n polities gelaaide byeenkoms op privaat eiendom toe te laat sonder onderhandelinge of bewyse van vergiftiging.

Volgens die regter spreek Raath se uitsluiting van die onderhandelinge op sy eie grond wat die senior polisielede met die gemeenskapslede gehou het, van minagting van sy regte tot menswaardigheid, gelykheid en eiendom.

Dis ontoelaatbaar vir die staat om die regte van ‘n individu weg te onderhandel in sulke omstandighede.

Die skade was voorsienbaar. Die polisie se verwerpte verweer was dat hulle eerder op Raath se veiligheid gefokus was, oorweldig was deur die omvang van die protes, en dat Raath nie wettige kommersiële permitte van sommige van die wild gehad het nie.

Redelike polisie-optrede met voldoende versterkings en die ontplooiing van oproerbeheerhulpbronne sou die voorval onder bedwang gebring het. Die polisie het nooit die beskikbare traangas, waterkanon, rubberkoeëls, skilde en knuppels gebruik nie. Die regter het die feitelike en juridiese kousaliteit van die polisie se nalatigheid en gevolglike skade bevestig.

Die partye se deskundiges het in ‘n gesamentlike ooreenkoms saamgestem oor die bedrag van die skade, behalwe vir ‘n nyala-bul.
Die algehele verlies is op R2 029 000.00 bereken met rente van 9% per jaar vanaf die datum van eis.
Raath se vrou, Kim, het getuig dat niks van die plaas infrastruktuur oorgebly het nie en hulle dit verlaat het.

You need to be Logged In to leave a comment.