Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

‘n Mens raak uit oefening om uit roetine weg te breek. Kom die geleentheid wel voor, is dit byna uitdagend om die deur na jou aardse besittings te sluit en die pad na ander horisonne te neem.

Ander horisonne leer ‘n mens altyd iets, al bevestig dit slegs dit wat vermoed. So vermoed jy dit, jy hoor dit in gesprekke, lees daaroor, sien plasings op sosialemediaplatforms, maar wanneer jy dit weer beleef, ruk dit die hart: Die meeste Noord-Kaapse dorpe is trietsig en vuil en oorgeneem deur moedeloosheid.

Op stukkende sypaadjies tussen rondwarrelende rommel sit mense met hul enigste oënskynlike tydverdryf om vir ander te kyk; dalk te hoop op ‘n los werkie om weer waardig te voel. Slaggate, lekkende water- en rioolpype, en onwettige storting van hope rommel is ‘n gegewe.

Dit lyk of Noord-Kaapse dorpe waar daar ‘n wil en hoop sigbaar is, dié is waar myne ‘n direkte betrokkenheid het − al is die lieflike vista met mynhope vervorm en die paaie wemelend van vragmotors.

In dié dorpe is dit opmerklik hoe net ‘n klein bietjie beheer ‘n verskil maak: Strate is skoon, asblikke word gebruik én leeggemaak en mense stap doelgerig. Aandag word selfs gegee aan aspekte ter wille van die mooiheid daarvan.

Dit laat ‘n mens wonder of sommige uitvoerende hooggeplaastes ooit hul horisonne verbreed of die rooskleurige bril afhaal, want dit kom té gereeld voor asof hulle nie weet wat buite hul kantoormure aangaan nie.

Tydens die premier van die Noord-Kaap, dr. Zamani Saul, se onlangse toespraak by die bekendstelling van The Big Hole Marathon het hy vertel van sy verstomming oor ‘n nuwe bestuurder by ‘n plaaslike hotel wat help borde afdek het. Op die premier se vraag oor waarom hy dit doen, het die man gesê om die hotel na behore te kan bestuur, moet hy elke aspek van die besigheid ken en verstaan − van borde afdek tot hotel skoonmaak.

“We can get so absorbed in our positions; we get deepfrozen in these positions and forget there is a real world out there where people want to see real leaders,” het die premier opgemerk.

Daarom kan ‘n mens hoop dat nog ‘n opmerking van hom − dat die skoonmaak van ‘n dorp soveel beter uitgevoer kan word wanneer leiers self die kwessies van skoonmaak beleef om dit beter te verstaan − ‘n werklikheid word.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article