Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

Soortgelyk aan die verbystering toe die Covid 19-inperking afgekondig is, was die afstel van Sondag se Kaapstad-marathon weens erge windtoestande.

‘n Mens kan jou die teleurstelling indink van die ongeveer 24 000 nasionale en internasionale deelnemers. Hulle het geoefen, ingeskryf, reis- en verblyfreëlings getref, verlof ingesit, en uitgawes aangegaan. Net om omtrent 90 minute voor die aanvang te moet hoor dit is afgestel.

Enigeen wat al die Kaapse wind in sy glorie beleef het, sal verstaan dat dit seker nodig was. Want dié wind kan mense omwaai, reuse bome ontwortel, strukture verwoes, vragmotors laat omslaan en vasgemeerde skepe in die hawe omdop.

Terug na die Covid 19-inperking: Kan ‘n mens glo dat dié onwerklike tydperk so lank terug soos 27 Maart 2020 afgekondig is? Dit is egter onlangs genoeg om te onthou hoe dit toe planne en beplanning – veel erger as die Kaapse wind – omgedop het. Die gevoel van verbystering is ook nie vergete nie.

Verbystering soortgelyk aan wat intree wanneer mense sulke sterk aanspraakmakers op ras-identiteit is. Soveel voorgeslagte kom uit wyd uiteenlopende wêrelddele. Jy dra denims – met die oorsprong uit die 1700s toe dit as werksklere van ‘n duursame materiaal in Nîmes in Frankryk ontwikkel is. Jy hou van Italiaanse skoene en pizza, Amerikaanse kitskos, Duitse blitsmotors, koffie uit Kenia, kuns uit Suid-Amerika, luister K-pop van Suid-Korea.

Hoe, behalwe met genetiese studies, gaan ons elkeen bepaal waar ons eintlik “hoort”?

Vra ‘n mens die wêreldwye web of daar enige suiwer ras op aarde oor is, is die antwoord nee. Moderne genetika toon dat alle mense in ‘n mate van gemengde afkoms is. Historiese migrasie, handel, oorlog, kolonisasie en globalisering het genetiese vermenging oor duisende jare universeel gemaak. Genetiese studies onder selfs geïsoleerde bevolkingsgroepe toon antieke vermening met ander groepe.

Diversiteit is weens voortdurende beweging, aanpassing en onderlinge verbindinge. Kyk na die hoeveelheid amptelike tale in verskillende lande wat ‘n aanduiding van hierdie elemente is: Bolivië het 37 amptelike tale, Indië 22 (met 19 500 dialekte), Zimbabwe 16 en Suid-Afrika 11 (met gebaretaal die 12de).

Deesdae, waar ons binne ‘n klompie ure reg rondom die aardbol kan vlieg, en waar werk en verblyf in ander wêrelddele algemeen is, is genetiese vermenging nog meer ‘n gegewe.

Met hierdie faktore in ag geneem, gaan dit seker daaroor waarmee jy jouself identifiseer, en waarmee jy tuis voel.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article