KAKAMAS – ‘n Man en vrou van Kakamas, asook hul maatskappy, het vandeesweek in die Kakamas-landdroshof verskyn op aanklagte van diefstal en geldwassery.

Adjudant-offisier Nomthandazo Mnisi, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (Valke), sê in ‘n verklaring dat Annelie Swartz (52), Jonathan Swartz (59) en hul maatskappy Annie’s Building Supplies (PTY) LTD op Woensdag 18 Februarie in die hof verskyn het. Hulle is op dieselfde dag deur die Valke se ernstige kommersiële misdaadondersoekspan in hegtenis geneem.

Mnisi sê volgens bewering het die beskuldigdes in 2020 ‘n ooreenkoms met die Kai Garib-munisipaliteit aangegaan om water en elektrisiteit namens die munisipaliteit te verkoop. Die ooreenkoms het behels dat die opgehoopte bedrag ná verkope na die munisipaliteit se bankrekening oorgeplaas sou word.

Voorts word beweer dat die beskuldigdes slegs vir twee maande by hierdie ooreenkoms gehou het en daarna opgehou het om geld na die munisipaliteit se bankrekening oor te plaas. Dit het daartoe gelei dat die munisipaliteit ‘n werklike verlies van meer as R1,2 miljoen gely het.

Die beskuldigdes is elk borgtog van R5 000 toegestaan ​​en die saak is tot 17 Maart uitgestel.

UPINGTON – In ‘n ander onverwante voorval is die 52-jarige Elizabeth Smith op Woensdag 18 Februarie deur die ernstige handelsmisdaadhof in Upington skuldig bevind en tot ses jaar direkte gevangenisstraf vir bedrog gevonnis en verdere vier jaar vir geldwassery.

Volgens adjudant-offisier Nomthandazo Mnisi, Valke-woordvoerder, is Smith en haar dogter, Corlea Smith, tydens Februarie en Maart 2024 deur die Valke se ernstige handelsmisdaadondersoekspan gedagvaar om in die hof te verskyn nadat ‘n besluit geneem is om hulle te vervolg op grond van bewyse wat bekom is.

Vanaf Februarie 2017 tot Julie 2021 was Smith senior as ‘n loonklerk by Dole Africa in diens. Hier het sy, volgens Mnisi, op ‘n bedrieglike manier onaktiewe profiele van personeellede op die loonstelsel gebruik om hul bestaande bankrekeninge na haar eie private bankrekening te verander. Sy het ook van die geld na haar dogter se rekening oorgeplaas, wat daartoe gelei het dat die maatskappy ‘n bedrag van R945 419 verloor het.

‘n Ondersoek deur die span het gelei tot die suksesvolle skuldigbevinding en vonnisoplegging van die beskuldigdes. Albei beskuldigdes was op borgtog tot hul vonnisoplegging.

Alle aanklagte teen Smith junior word teruggetrek, terwyl vonnisse teen Smith senior gelyklopend uitgedien sal word.

Die provinsiale hoof van die Valke, generaal-majoor Steven Mabuela, het die ondersoek- en die aanklaerspan vir die suksesvolle skuldigbevinding en vonnisoplegging gelukgewens.

LEES OOK: DA MP wins R300 000 defamation case against NPA over attempted murder charges

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article