Man beken moord in versekeringsaak; niggie is ‘dronk gemaak’, gewurg

Justin Tier
Van links is Justin Tier; sy voormalige meisie, Naledi Leburu; en haar suster, Mpho Leburu. Foto: Charné Kock

In ‘n moordverhoor wat reeds ‘n verrassende erkenning in die hooggeregshof in Kimberley opgelewer het toe een van die beskuldigdes getuig het hy het die moord vir versekeringsgeld gepleeg, het hy ook beweer ‘n medebeskuldigde “het reeds voorheen geld uit ‘n versekeringspolis gemaak”.

Justin Tier, die eerste beskuldigde wat van Hopetown kom, word saam met sy voormalige meisie, Naledi Leburu, en haar suster, Mpho Leburu, albei van Douglas, van die moord op hul niggie, Ristelle Stenekamp, aangekla. Die ander aanklagte is regsverydeling en bedrog. Hulle het glo die lyk in ‘n asblik versteek en toe in die besproeiingskanaal gegooi.

Justin Tier stap na die aanhoudingselle. Hy het getuig hy het moord vir versekeringsgeld gepleeg. Foto’s: Charné Kemp

Die motief was om geld van die twee versekeringspolisse van altesaam R80 000 te eis wat die susters op hul niggie se lewe uitgeneem het.

Tier se medebeskuldigdes ontken steeds die aanklagte. Tier het nadat die staat sy saak gesluit het, in sy eie verdediging getuig en erken die moord was beplan om versekeringsgeld as begunstigdes te eis.

Niggie is “dronk gemaak”, gewurg, in asblik gelaai

Hy het in kruisondervraging vertel hy het die betrokke dag in Douglas, op Sondag 9 Augustus 2020, en in die teenwoordigheid van sy medebeskuldigdes die oorledene gewurg. Hy het aan haar nek gevoel of sy dood was, en het toegegee dat indien sy nie dood was nie, sy weens haar bewustelose toestand in die kanaal verdrink het.

Ten tyde van die voorval was Naledi ver swanger met Tier se kind.

Die twee susters het hul niggie na hul ouerhuis genooi en haar in die motorhuis “dronk gemaak”. Dit is toe dat Tier haar aangeval het.

Hy het die lyk in ‘n asdrom gelaai en hulle het ‘n vriend gebel om te help om die asblik na die kanaal te dra en die lyk daarin te gooi sodat dit “vinnig wegspoel”. By die kanaal het die vriend geweier om hulle verder te help en weggeloop.

Luidens die nadoodse verslag is Stenekamp op 11 Augustus gevind. Die oorsaak van dood was verdrinking.

‘Plan was om moord te pleeg vir versekeringsgeld’

Tier is R10 000 betaal. Die twee susters het onderskeidelik R50 000 en R30 000 van die versekeringsmaatskappy geëis. Die polisse is in Julie 2020 uitgeneem.

“Ons het kos en klere met die geld gekoop,” het Tier getuig.

Die oorledene se ma het vroeër getuig dat sy geen geld van die susters ontvang het nie, en self vir haar dogter se begrafnis betaal het.

Tier het in kruisondervraging aan adv. Adele van Heerden, aanklaer, gesê die plan was om moord te pleeg sodat die twee susters versekeringsgeld van die polis wat hulle op die oorledene se naam uitgeneem het, kan eis.

“Naledi het aan my verduidelik hoe sy op ‘n vorige geleentheid ook geld uit ‘n versekeringseis gemaak het.”

Adv. Moetleetsi Mokwera het namens die susters, wat op borgtog vrygelaat is, aangedui hulle gaan nie self getuig of getuies roep nie. Kingsley Sebolai tree vir Tier op, wat in aanhouding is.

Die betoë voor regter Cecile Williams sou Woensdag 10 September aangehoor word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article