SPRINGBOK – In Springbok is 135 gr.12-leerders besig om daadwerklike stappe na hul toekoms te neem. ‘n Paar het reeds terugvoer ontvang oor hul aansoeke vir universiteite, kolleges en beurse. Dit is vordering wat moontlik gemaak is deur ‘n loopbaanvoorligtingsprogram.
Hierdie program help leerders om die aansoekproses te navigeer en ingeligte besluite oor hul opsies vir studie en toekomstige loopbane te neem.
“Die ondersteuning wat ons ontvang het, het werklik ‘n verskil vir ons as graad 12-leerders gemaak. Ons is aangemoedig om verdere studie te oorweeg en daar is vir ons gewys dat geleenthede en ‘n toekoms vir ons voorlê. Die span was vriendelik, toeganklik en altyd bereid om te help. Hulle het werklik deure vir ons oopgemaak” sê Chelsea Swartz, adjunkhoofmeisie van St Anna Sekondêre Privaatskool.
LEES OOK: Vroue van Springbok leer vaardighede vir selfvertroue en onafhanklikheid
Agter hierdie vordering staan ’n toegewyde span van agt plaaslike vroue wat direk met leerders werk om hulle deur die aansoekproses te lei.
Die span bestaan uit twee verteenwoordigers van Khaus Development, drie voormalige internstudente van die Kangnas-windkragaanleg en drie studente – ‘n kombinasie van ervaring en praktiese insig wat leerders help om deurgaans ondersteun te voel.
Die sessies word ná skooltyd aangebied en middagete word aan die leerders en die vroue wat die program fasiliteer, voorsien.
LEES OOK: Jeug-entrepreneurs van Springbok toegerus met digitale vaardighede
“Toegang tot loopbaanvoorligting en ondersteuning met aansoeke kan die verskil beteken tussen ‘n leerder wat sy of haar opvoeding voortsit en een wat dit nie doen nie.
“Ons wil verseker dat geen jongmens in ons gemeenskap die geleentheid misloop omdat hulle nie geweet het waar om te begin nie,” sê Rouchet Daniels, Ekonomiese Ontwikkelingsbestuurder by Kangnas-windkragaanleg, die program se finansierders.
Leerders van drie skole het reeds bystand ontvang, insluitend agt van Hoërskool Nababeep, vyf van Hoërskool Concordia en twee van Hoërskool Namakwaland. Nog sessies word by St Anna Sekondêre Privaatskool en Hoërskool Okiep beplan, waar leerders ook ondersteuning met aansoeke vir universiteite, kolleges en beurse sal ontvang.





