‘n Totaal van 35 kwesbare kinders in Loeriesfontein, en hul versorgers, het onlangs ’n pakkie met noodsaaklikhede ontvang om die druk van die skoolkwartaal te verlig.
Die kinders en hul versorgers het elk skoolklere, voedselpakkies en skoolbenodigdhede tydens ’n geleentheid by die Thusong-sentrum in die dorp ontvang. Die doel is om kinders selfversekerd en voorbereid te laat voel en om hulle in hul skoolwerk te help.
“Ek is opreg dankbaar vir hierdie hulp. ’n Staatstoelaag rek net so ver, en hierdie bystand het my in staat gestel om ook na die kinders se ander behoeftes om te sien. Dit het ’n werklike verskil gemaak – nie net om hulle by die skool te kry nie, maar ook hoe dit met hulle gaan as hulle eers daar is,” sê Sheila Steenkamp, ’n versorger.
Die inisiatief word deur die Loeriesfontein- en Khobab-windkragaanleg befonds en is in vennootskap met die departement van maatskaplike ontwikkeling begin. Die departement se bestaande bande met kwesbare gesinne het help verseker dat die ondersteuning diegene bereik wat dit die meeste nodig het.
Versorgers, van wie baie werkloos is of onbestendige werk het, is voor die oorhandiging as ’n groep geraadpleeg sodat die pakkies elke gesin se spesifieke behoeftes kon aanspreek.
“Ons wil hê hierdie kinders moet gereed en selfversekerd by die skool aankom. Iets so eenvoudig soos die regte klere en kos in die huis kan die deurslag gee of ’n kind aanhou skool gaan, en ons hoop hierdie ondersteuning speel ’n rol daarin,” sê Gwynne-Lee Borcherds, bestuurder van Ekonomiese Ontwikkeling vir die windkragaanlegte.
LEES OOK: Deelname versterk gesinstruktuur, ondersteun ouers en kinders



